Die artikel beskryf ’n sportgebeurtenis wat in die toekoms gaan plaasvind. Die inligting is moontlik spekulatief en kan vinnig verander soos data beskikbaar raak.
FIFA Sokker-Wêreldbeker
2026 FIFA World Cup (en) Copa Mundial de Fútbol 2026 (es) Coupe du monde de football de 2026 (fr)
Die 23ste FIFASokker-Wêreldbekertoernooi (Engels: FIFA World Cup; Spaans: Copa Mundial de Fútbol 2026; Frans: Coupe du monde de football de 2026) sal van 11 Junie tot 19 Julie 2026 in Kanada, Meksiko en die Verenigde State beslis word.[1] FIFA het op 13 Junie 2018, net voor die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2018 in Rusland, die gasheerlande aangekondig. Dit sal die eerste toernooi wees wat deur drie lande gemeenskaplik aangebied sal word. Daarbenewens sal dit die vierde toernooi in Noord-Amerika wees, die eerste in Kanada, die tweede in die Verenigde State ná die 1994-toernooi1994 asook die derde in Meksiko ná die 1970- en 1986-toernooie. Kandidate vir gasheer was Marokko asook die gemeenskaplike Noord-Amerikaanse bod.[2]
Die toernooi sal vir die eerste keer deur 48 nasionale spanne uitgespook word, waaronder dié van die drie gasheerlande.[3] Die spanne sal in twaalf groepe van vier elk verdeel word, waarvan die twee beste spanne van elke groep na die 16de eindrondte sal deurdring. Altesaam sal 104 wedstryde uitgespeel word, waarvan 60 in die Verenigde State en tien elk in Kanada en Meksiko.[4]
Volgens FIFA se beleid mag net al om die drie toernooie deur dieselfde kontinentale beheerliggaam gehou word. Lande van AFC en UEFA was dus onverkiesbaar vir 2026, omdat 2018-toernooi aan Rusland en die toernooi van 2022-toernooi aan Katar toegewys is.[5]
Kanada, Meksiko en die Verenigde State is op 13 Junie 2018 in Moskou deur FIFA gekies as die gasheerlande vir die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2026. Die enigste ander kandidaatland was Marokko. Die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2026 is een van vyf groot internasionale toernooie wat die Verenigde State binne een dekade sal aanbied, saam met die T20I-wêreldbeker 2024 (saam met Wes-Indië), die Olimpiese Somerspele 2028, die Rugbywêreldbeker 2031 en die Vrouerugbywêreldbeker 2033.[6][7][8]
Die stemming het as volg verloop:
Stemming vir gasheer van die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2026[9]
Die gashere Kanada, Meksiko en die Verenigde State het regstreeks vir die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2026 gekwalifiseer. Van die 45 oorblywende plekke is 16 vir Europese spanne gereserveer, nege vir Afrika, agt vir Asië, ses vir Suid-Amerika, drie vir Noord- en Sentraal-Amerika en een vir Oseanië. Twee plekke sal tydens uitspeelwedstryde tussen Afrika en Noord-/Sentraal-Amerika en tussen Suid-Amerika en Oseanië beslis word.
Die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2026 word oor 39 dae tussen 48 verskillende spanne oor 104 wedstryde uitgespeel. Dit sal op 11 Junie 2026 op die Estadio Azteca, Meksikostad, Meksiko met die openingswedstryd tussen die medegasheer Meksiko en ’n ander span afskop. Die toernooi sal eindig by die MetLife-stadion, East Rutherford, Verenigde State op 19 Julie met die eindstryd, waartydens die wenner die Sokker-Wêreldbekertrofee sal inpalm.
Die volgende tabel dui die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2026 se daaglikse program aan. ’n Pers blokkie dui op wedstryde tydens die groepfase, ’n groen blokkie op wedstryde tydens die uitklopfase, ’n blou blokkie op die bronseindstryd en ’n geel blokkie op die eindstryd.
Die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2026 sal deur 32 nasionale sokkerspanne uitgespeel word. Vir die groepfase sal die 48 deelnemende spanne in twaalf groepe van vier elk verdeel word; elke span sal een wedstryd teen elk van die ander spanne in dieselfde groep speel, dus sal elke span drie wedstryde in die groepfase speel. Drie punte sal vir ’n oorwinning toegeken word, een vir ’n gelykop en geen punte vir ’n nederlaag: spanne wat met dieselfde aantal punte sal eindig, sal volgens aangetekende doele gerangskik word.
Klassifisering binne elke groep sal gegrond wees op die volgende puntestelsel:
Drie wedstrydpunte vir ’n oorwinning;
Een vir ’n gelykop;
geen vir ’n nederlaag.
Aan die einde van die groepfase sal die spanne gerangskik word van die eerste na die vierde posisie, gegrond op versamelde wedstrydpunte, met die twee beste spanne en die agt beste derde-plek-spanne wat na die uitklopfase sal deurdring. As twee spanne gelyk op punte is, sal die rangorde deur hul aantal aangetekende doele bepaal word.
Van die begin van dié fase af sal die toernooi ’n uitklopformaat aanneem wat uit 32 wedstryde bestaan: 16 16de einstryde, agt agtste eindstryde, vier kwarteindstryde, twee halfeindstryde, ’n derdeplekwedstryd en die eindstryd.
Die wenner en naaswenner van elk van die groepe sal saam met die agt beste derde-plek-spanne na die uitklopfase deurdring. Groepwenners sal teen naaswenners in ander groepe in die 16de eindstryde peel, byvoorbeeld: die wenner van Groep A sal teen die naaswenner van Groep B en die wenner van Groep B sal teen die naaswenner van Groep A speel. Spanne van dieselfde groep sal dus eers weer in óf die klein finale óf die eindstryd kan ontmoet.
Elke wedstryd in die uitklopstadium moet met ’n oorwinning vir een van die spanne eindig. As daar ná negentig minute van gewone spel ’n gelykopuitslag is, sal daar verder gespeel word om die wenner te bepaal. Aanvanklik sal daar twee periodes van ekstra tyd gespeel word, 15 minute in elke rigting. As daar steeds nie ’n wenner ná 120 minute is nie, sal die wenner deur ’n strafskopkompetisie bepaal word.
48 spanne sal aan die groepuitdunne deelneem. Die twee beste spanne sal saam met die agt beste derde-plek-spanne in elke groep na die tweede rondte (die uitklopfase) deurdring.
↑(en) "Los Angeles 2026". Los Angeles Sports & Entertainment Commission. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Junie 2021. Besoek op 14 Desember 2024.