Peripatetiese skool
Die Peripatetici was lede van ‘n skool van filosofie in antieke Griekeland. Hulle leringe was geskoei op dié van hulle stigter, die Griekse filosoof Aristoteles, en Peripateet is ‘n naam wat aan sy volgelinge gegee is. Die skool het oorspronklik sy naam Peripatos ontleen aan die peripatoi (περίπατοι "kolonnades") van die Lykeion-gimnasium in Athene waar die lede vergader het. ‘n Soortgelyke Griekse woord peripatetikos (περιπατητικός) verwys na die loop-aksie, en as ‘n byvoeglike naamwoord word "peripateties" dikwels in die trant van swalkend, wandelend, meanderend of drentelend gebesig. Na Aristoteles se dood, het ‘n legende ontstaan dat hy ‘n "peripatetiese" dosent was – dat hy al lopende onderrig gegee het – en die benaming Peripatetikos sou die oorspronklike Peripatos vervang.
Die skool dateer van omstreeks 335 v.C. toe Aristoteles in die Lykeion begin instruksie gee het. Dit was ‘n informele inrigting waarvan die lede met filosofiese en wetenskaplike ondersoeke bemoeid was. Aristoteles se opvolgers Theophrastos en Strato het voortgebou op die tradisionele deurgronding van filosofiese en wetenskaplike teorieë, maar na die middel van die 3de eeu v.C., het die skool ‘n insinking beleef, en dit sou nie voor die Romeinse era weer ‘n bloeityd ervaar nie. Later het die skool se lede hulle daarop toegespits om kommentare op Aristoteliaanse werke te lewer, eerder as die verdere ontwikkeling daarvan, en die skool sou eindelaas in die 3de eeu n.C. doodloop.
Alhoewel die skool tot niet gegaan het, het die bestudering van Aristoteles se werke in die Latere Oudheid, die Middeleeue en die Renaissance voortgeleef onder geleerdes wat Peripatetici genoem is. Na die val van die Romeinse Ryk, het die werke van die Peripatetiese skool vir die weste verlore gegaan, maar in die ooste is dit opgeneem in vroeë Islamitiese filosofie, wat ‘n groot rol sou speel in die herlewing van Aristoteles se doktrines in Europa van die Middeleeue en die Renaissance.