Steve Biko
Steve Biko | |
---|---|
Gebore | Stephen Bantu Biko 18 Desember 1946 |
Sterf | 12 September 1977 (op 30) |
Nasionaliteit | Suid-Afrika |
Bekend vir | Anti-apartheidsaktivis |
Eggenoot | Ntsiki Mashalaba |
Kinders | Nkosinathi Biko, Samora Biko, Lerato Biko, Motlatsi Biko en Hlumelo Biko |
Steve Biko (18 Desember 1946 – 12 September 1977) was 'n Suid-Afrikaanse aktivis en intellektueel. Hy was 'n sleutelfiguur in die Swartbewussynsbeweging wat teen apartheid geveg het. ’n Jaar ná sy ontydige dood in polisie-aanhouding is van sy geskrifte gebundel en as I Write What I Like gepubliseer. Die rolprent Cry Freedom handel oor sy lewe.[1]
Lewensloop
[wysig | wysig bron]Stephen Bantu Biko is op 18 Desember 1946 in Ginsberg-township naby King William’s Town gebore. Hy is uit die Hoërskool Lovedale geskop weens sy politieke idees, en moes sy skoolloopbaan aan die St Francis College voltooi.
Gedurende die laat 1960's was Biko 'n mediese student aan die Universiteit van Natal. In hierdie tyd het hy gehelp om die Suid-Afrikaanse Studente-organisasie (SASO) te stig. Die organisasie is later na die Swartbewussynsbeweging verander en Biko is in 1968 as die eerste president verkies.
As 'n student in die vroeë 1970's het Biko teen apartheid in opstand gekom. In 1972 is hy uit die Universiteit van Natal geskop. 'n Jaar later het die Suid-Afrikaanse regering Biko ingeperk. As gevolg hiervan kon hy nie in die openbaar, of met meer as een persoon op 'n slag praat nie. Hy is ook tot die landdrosdistrik van King William's Town ingeperk.
Biko is op 18 Augustus 1977 gearresteer. Hy is op 12 September 1977 weens beserings in polisie-aanhouding oorlede. Hy was 30 jaar oud.
Nalatenskap
[wysig | wysig bron]Biko word deur sommige as een van die voorste politieke denkers en aktiviste in die stryd teen apartheid beskou. Sy vroegtydige dood in polisie-aanhouding was 'n groot aanleiding tot die politieke mobilisasie van swart mense in hul vryheidstryd. Biko word veral onthou vir sy rol in die uitbouing van die Swartbewussynsbeweging in Suid-Afrika en vir sy werk om die opheffing van swart gemeenskappe, veral die jeug. Sy dood het 'n skokgolf deur swart Suid-Afrika gestuur en sy begrafnis, wat deur sowat 20 000 mense bygewoon is, was die eerste van 'n reeks massabegrafnisse wat swart mense in die tagtigerjare sou saamsnoer in hul stryd teen apartheid. Die situasie is vererger deur die opmerking van die destydse minister van polisie, Jimmy Kruger, wat gesê het dat Biko se dood hom koud gelaat het. Die oproer wat ná sy dood opgevlam het, het tot die verbanning van verskeie individue (insluitende Donald Woods) en organisasies gelei en die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies genoop om wapensanksies teen die land in te stel.
Vandag word Steve Biko se nalatenskap vereer deur die Steve Biko-stigting, 'n nie-winsgewende organisasie wat hom sedert 1998 beywer vir gemeenskapsgebaseerde jeugleierskap en jeugdeelname aan die openbare lewe. Die Biko-stigting het onder meer sedert 2000 'n jaarlikse herdenkingslesing aangebied. In 2000 is die lesing gegee deur prof Njabulo Ndebele, die adjunkkanselier van die Universiteit van Kaapstad; in 2001 deur prof Zakes Mda, ook van die Universiteit van Kaapstad; en in 2002 deur die wêreldberoemde skrywer prof Chinua Achebe, wat as titel van sy voordrag die titel van een van sy romans gekies het: "A man of the people".
Sien ook
[wysig | wysig bron]- Mamphela Ramphele, vriendin en moeder van twee van sy kinders.
- Steve Biko Akademiese Hospitaal, hospitaal in Pretoria.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Steve Biko.
- Die Steve Biko-stigting