Wetenskapstaal
Wetenskapstaal verwys na die medium waarin vaklektuur aan die leser aangebied word, ter onderskeid van wetenskaplike taal as skryfstyl.
Geskiedenis
[wysig | wysig bron]In die Middeleeue van Europa was Latyn die taal van die akademie, maar met die Hervorming en die beskikbaarstelling van die Bybel in die volkstaal word die wetenskap toenemend in die volkstaal geskryf (ook om die wetenskap volks te maak). Dit was egter 'n taalkwessie op sy eie wat lank gedebatteer is tot en met die 1600's, maar die wegbreek van Latyn geskied baie geleidelik. Tog is die meeste vertalings uit die volkstaal in Latyn juis in die 1600's te vinde. Later is party boeke in Latyn geskryf, maar met kantaantekeninge in die volkstaal; ander kere is tweetalige boeke in sowel Latyn as die volkstaal op teenoorstaande bladsye geskryf, of die een reël in die volkstaal, die volgende reël in die vertaalde Latyn. Soms is die tekste in verskillende tale vir verskillende gehore geskryf. Om in die plaaslike volkstaal te skryf het groter oplae en boekverkope (en wins) vir die drukkers, uitgewers en verkopers beteken; om in Latyn te skryf sou die paar geleerde individue in die buiteland bereik. Soos ook nuwe leervakke op skool aangebied is, word al hoe minder tyd afgestaan met die leer van Latyn, wat die taal al hoe meer eenkant toe skuif. Die finale doodskoot van Latynonderrig is reeds teen die 1850's, toe burgers in die Nuwe Wêreld, maar ook die Europese Kolonies, toenemend die nut van Latyn bevraagteken, nie alleen omdat ‘n mens die hoogste sport sonder hierdie taal kan bereik nie (tegnoloë, uitvinders, boere, ontdekkers, nyweraars, ens), maar ook omdat die meeste bronne in Latyn buitendien myle ver weg in Europese argiewe en biblioteke agter slot en grendel sit.
'n Hoëfunksietaal (waaronder die taal hom in die wetenskap kan bedien) gaan gepaard met bruikbaarheid en prestige.
Nog in 1776 word slegs Duits, Frans, Italiaans en Latyn in Il Dizionario Imperiale nel Quale le Quattro Principali Lingue dell’ Europa (Giovanni Veneroni) as dié belangrike tale “by die geleerde wêreld” van Europa (of, meer spesifiek die Heilige Romeinse Ryk) beskou; implisiet was Engels en Spaans dus twee randeiers.
Sedert Frans die taal van die Franse hof geword het in 1539 (wat gerig was téén Latyn en nié die ander minderheidstale nie, soos dit wél was na afloop van die Franse Revolusie), het 'n statusverhoging van die opgeluisterde taal ingetree in die grootste en verreweg die volkrykste land van Europa. Juis weens die ekonomiese bloei en opgang (Frans was vanouds dié handelstaal op die Europese vasteland), ook vernaamlik as die taal van die diplomasie dwarsoor Europa (tot en met die Vrede van Versailles in 1919, wat nie meer slegs in Frans was nie, maar toe ook in Engels), maar ook die Franse Ryk wat al hoe sterker geword het wêreldwyd, is ook meer geld bewillig aan die akademie en navorsing wat veral Frans bevoordeel en bevorder het.
Frans het op Franse grond dus 'n historiese voorsprong geniet, terwyl die burgers van die multikulturele laslappieland net langsaan, die Heilige Romeinse Ryk (met Latyn as gemene deler), onder mekaar wat taal, godsdiens, staat en volk betref érg verdeeld en gefragmenteer was. Eers ná afloop van die nywerheidsomwenteling (wat in Pruise die merkbaarste was), die skoolplig en die Unifikasie van Duitsland kon die Duitse taal hom veral laat uitblink in die chemiese ingenieurswese. Veral in die kleiner buurlande (Skandinawië en Nederland) asook Oos-Europese (Suid-Slawië en die Baltiese lande ingesluit) is swaar op Duitse werke oor die algemeen gesteun (omdat hulle destyds ook meestal fisies met Duitsers te doene gekry het).
In die Engelssprekende lande is 'n histeriese kultuurboikot tydens en ná afloop van die Eerste Wêreldoorlog teen alles wat Duits is uitgeroep, wat die Duitse taal swaar getref het. Frans is indirek ook self hierdeur geraak, want weens die Amerikaners wat Duits geboikot het, het 'n soort isolasionisme in die 1920's ontstaan, al is hierdie anti-Duitse boikotwetgewing ook herroep in 1923, sodat niemand 'n duit meer kon omgee wat in ander oorsese tale aangaan nie. Voortaan het jy Amerikaanse wetenskaplikes gekry wat slegs in Engels en Amerikaansgesentreerd gedink en Amerikaans-Engelse terminologie gemunt het.
Die Duitse en Oostenrykse wetenskaplikes is dus in die laat-1910's/1920's op hierdie wyse by talle internasionale verenigings en rade uitgesluit (sowel die Amerikaans-Britse lande as Frankryk het hiervoor gesorg), sodat hul genoop was om selfs meer vaktydskrifte in die lewe te roep, maar sodoende nie wêreldwye bekendheid kon verwerf nie. Dit het egter nie gekeer dat skrander studente uit Amerika en elders in Duitsland kon gaan studeer en/of Duitse werke aan outonome universiteite kon voorskryf nie – dit is trouens ook in Duitsland waar heelwat buitelandse Nobelpryswenners tussen 1903 tot 1937 in die Chemie, Fisika en Medisyne werksaam of verbonde was, of voorheen studeer het. Die vakgebiede waar Duits nog die meeste in 1996 tot sy reg kom (in hierdie volgorde) is die Literatuurwetenskap, Opvoedkunde, Godgeleerdheid, die Regte en Geskiedenis.
Die demografiese verskuiwings (emigrasie na Amerika of Britse kolonies, met die gepaardgaande taalassimilasie), as oorwinnaars van die Wêreldoorloë, as teelaarde van die wêreldwye massamedia (wat toeganklikheid uitgebrei het), kolonialisme en ekonomiese vooruitgang in die Nuwe Wêreld het Engels 'n prominente plek in die wetenskap gegee. Soos ook meer wetenskaplikes van dwarsoor die wêreld in die taal hul navorsing publiseer, het Engels net al hoe meer prominent geword.
Tog toon die taalverhouding wat natuurwetenskaplike publikasies wêreldwyd betref reeds aan dat Engels in die 1880's die botoon gevoer het (slegs die hooftale word gelys):
Jaartal | % Engels | % Frans | % Duits | % Russies |
1880 | 35,8 | 27,2 | 23,6 | 1,5 |
1890 | 37,5 | 27,6 | 22,3 | 2,8 |
1910 | 30,23 | 25,66 | 33,68 | 2,2 |
1920 | 33,26 | 14,35 | 44,0 | 1,36 |
1930 | 46,29 | 12,21 | 33,0 | 1,79 |
1940 | 48,55 | 14,82 | 27,29 | 4,56 |
1950 | 55,31 | 14,38 | 21,15 | 6,0 |
1960 | 50,64 | 9,43 | 15,21 | 12,42 |
1970 | 55,62 | 7,07 | 10,16 | 20,48 |
1980 | 74,6 | 3,1 | 3,5 | 10,8 |
1984 | 77,1 | 2,4 | 3,3 | 9,2 |
1988 | 80,5 | 2,4 | 2,9 | 6,9 |
1992 | 87,2 | 1,6 | 1,6 | 3,9 |
1996 | 90,3 | 1,3 | 1,2 | 2,1 |
2005 | 92,7 | <1 | <1 | <1 |
In 2008 word bevind 78% van alle inligting wat dwarsoor die wêreld geskep word, staan geskryf in tien tale: Engels, Duits, Spaans, Chinees, Frans, Japannees, Italiaans, Russies, Portugees en Nederlands.
Taal | Geletterde bevolking | Skep van inligting |
Engels | 10,58% | 44,29% |
Duits | 1,74% | 7,60% |
Spaans | 5,47% | 5,91% |
Chinees (Mandaryns) | 14,68% | 4,85% |
Frans | 4,07% | 4,21% |
Japannees | 2,33% | 3,34% |
Italiaans | 1,09 % | 2,16% |
Russies | 3,59% | 1,96% |
Portugees | 3,54% | 1,68% |
Nederlands | 0,43% | 1,67% |
Koreaans | 1,36% | 1,20% |
Hindi | 4,26% | 0,96% |
Arabies | 4,24% | 0,43% |
Bengali | 1,99% | 0,12% |
Kritiek op statistiek en volhoubaarheid
[wysig | wysig bron]Hamel (2013) kyk uit 'n Franssprekende oogpunt skepties na die bovermelde statistiek (1880 en later), om drie redes. Volgens hom is die benadering eerstens nie eens kwantitatief korrek nie, laat staan nog kwalitatief van aard. Tweedens word slegs 'n paar uitgesoekte gesaghebbende (eintlik hoogwaardige) geïndekseerde internasionale vaktydskrifte, wat grotendeels beheer word deur Engelstalige en Anglosentriese verenigings (en hul uitgewerye), onder die loep geneem. Derdens word boeke heeltemal buite rekening gelaat in die natuurwetenskappe, terwyl boeke van groot waarde is in veral die sosiale en geesteswetenskap. Die resultaat wat mens dus kry is 'n erg verwronge beeld van die werklikheid.
Die grootste flater is die "lande van oorsprong" waarna gekyk word in die einste vaktydskrifte wat van huis uit in Engels publiseer en hoogs eensydige resultate lewer; Hamel wys byvoorbeeld hoe Wallis, wat maar twéé universiteite het, op die Arts & Humanities Citation Index van 2006, op die presiese gelyke voet gestel word met Frankryk. Ook omdat so min Spaanse artikels uit Spaanse lande in hierdie tydskrifte gepubliseer word, en Spaanssprekende lande dus "swak" vaar, word die Verenigde State hoër geskat as die hele Spanje, Argentinië of Mexiko saam. Op sy beurt lei hierdie wanvoorstellings van 'n "almagtige taal" (dit is nou Engels) tot taaldéfaitisme (waar wetenskaplikes maar gelate (onder druk) voel hulle moet tog maar in die vreemde Engels publiseer, want die statistiek bewys mos nou almal doen dit). Daar kan selfs op hierdie wyse onwetend – 'n strategie sonder strategiese berekening miskien – beoog word om Engels te versterk en ander tale wêreldwyd te verswak.
Ook word vergeet van artikels wat in Frans vertaal word, wat juis op duursame wyse Frans versterk en selfs uitbrei; ook word uit die oog verloor dat 'n artikel nou wel in Engels geskryf mag wees, maar dit kom vanuit 'n Franse en Franstalige gemeenskap, dat die wérk in die laboratoria of op straat in Frans onderneem word, wat gevoed word deur wetenskaplike produksie in Frans; ook die onderwys geskied in Frans, hoewel daar uit 'n verskeidenheid bronne (ook vreemdtalige tekste soos Duits) geput word. Omrede hierdie gee-en-neem uit die makro- en mikro-omgewing belangrik is, behoort meer moeite gedoen te word om 'n volhoubare harmonie daar te stel, 'n soort etiese pligsbesef, 'n maatskaplike verantwoordelikheidsin, waarin jy "teruggee" aan die gemeenskap waaruit jy put (bv. Frans aan die Franse gemeenskap, bv. die ontwikkeling van vakterminologie), anders word dit soos 'n ouroboros wat sy eie stert opvreet, of 'n soort monokultuur wat niks in die taalakker terugploeg waaruit slegs gemaai word nie. Die voedingsaarde van Engels (by name ander tale en kulture) word juis sodoende net leeggesuig.
Volgens Hamel is elke liewe eentalige model uiters ongeskik – juis omdat dit hier eerder, anders as wat sedertdien lank deur die Franstalige en Spaanssprekende wêreld toegepas word (juis oor die taalminderhede wat in die verlede verdruk is), om mag gaan, en nie om die ondergestelde tale te verdedig nie (in die Franse en Spaanse skole word benewens plaaslike tale ook buitelandse tale aangebied). Die eentaligheid van Engels gaan sy moedertaalsprekers op die lange duur ook duur te staan kom, juis omdat die aanleer van ander tale 'n mens leer om buite jou eie klein wêreldjie (wat ook etnosentrisme insluit) te dink, om die grense te weerlê en nugter/wetenskaplik te dink. Maar noudat die buitelanders die werk vir hom doen, is die buitelanders besig om indirek hul eie kultuur te ondermyn, wat die hele makro-omgewing sal skaad.
Hamel stel eerder veeltalige groeipunte voor waaruit ander tale ook voordeel kan trek (soos uitruilprogramme tussen Frans-Spaans-Italiaans-Portugees). Dit dien as die goue middeweg tussen die "Franse Pool" (wat Frans as internasionale wetenskapstaal wil bevorder) en die "Engelse Pool" (wat druk op ander plaas om te swig voor hom as internasionale taal).
Hy maak die volgende voorstelle:
Veeltalige wetenskaplike groeipunte uit ‘n Franssprekende se oogpunt | ||
Frans as spilpunt | Meertalige goue middeweg | Engels as spilpunt asook ander vreemde tale |
Algemene doelwit 1:
Bou Frans uit tot internasionale wetenskapstaal |
Steun en bevorder die meertalige groeipunte en ingesteldheid | Algemene doelwit 2: Verinheems die Engelstalige en ander vreemde tale se wetenskaplike ontwikkeling (met Franstalige kennis) |
Vakterminologie en databanke:
|
|
Vakterminologie en databanke:
|
Publikasies:
|
|
Publikasies:
|
Vertaling:
|
|
Vertaling:
|
Onderrig van Frans (lees- en skryfvaardigheid)
|
|
Onderrig van ander tale (lees- en skryfvaardigheid)
|
Wetenskaplike opleiding in Frans
|
|
Wetenskaplike opleiding in ander tale
|
Internasionale uitruilprogramme
|
|
Internasionale uitruilprogramme
|
Voordele en nadele van wetenskapstaal
[wysig | wysig bron]Met omtrent 6 500 tale dwarsoor die wêreld op die tombolatafel is die een voordeel van 'n wetenskapstaal (soos Frans in Afrika) dat 'n klomp Afrikatale se kennis in een taal ('n ou koloniale lingua franca) opgeneem is. Dit spaar die leser die tyd en moeite om eers tientalle plaaslike tale en dialekte onder die knie te kry, waarvoor daar dikwels geen leermateriaal is nie.
Die nadeel is egter ook dat 'n wetenskapstaal nie altyd met presiesheid die nuanse (en kultuur) van 'n ander suiwer kan oordra nie en dat die plaaslike taal nie bevorder word nie. In Nederland gaan dit selfs sover waar die eie letterkunde in Engels moet gedoen word, soos Lotte Jensen (2019) skryf:
Minstens zo kwalijk is het dat studenten in de masterfase van hun opleiding hun Nederlandse taalvaardigheid niet meer ontwikkelen doordat werkstukken en scripties in het Engels moeten worden geschreven. Dat leidt tot vreemde situaties. Zo werd ik twee jaar geleden geconfronteerd met een student die haar werkstuk over Vondel in het Engels moest schrijven. Ook de beroemde openingsverzen uit de Gysbreght van Aemstel moesten vertaald worden. „Het hemelsche gerecht heeft zich ten langen lesten/ Erbarremt over mij en mijn benaeuwde vesten” werd getransformeerd tot doorsnee-Engels: „Heavenly justice has been benevolent for me, and protected me and my endangered city”. Weg metrum, rijm en de poëtische kracht van het Nederlands.
Ook, sonder melding in hierdie wetenskapstaal (bv. Frans) bly die paar tekste met meriete wat wel geskryf is in die Afrikatale deur die internasionale gemeenskap geheel en al onbekend en onbemind. Verder word 'n "plaaslike taal" gemeet aan wat hy "internasionaal" beteken, terwyl die plaaslike (unieke) problematiek en kennis heeltemal oor die hoof gesien word. Dit is onder andere hoekom daar na al die jare steeds gepraat word van Departement Afrikanistiek (om na al die Afrikatale se letterkunde as geheel te wys) en geen afsonderlike taaldepartement, soos gesien word by die Europese tale en Afrikaans nie. Ook skryf diegene wie se moedertaal nie die wetenskapstaal is nie maar dikwels power en onduidelik, anders word vooruitgang en bevordering vir hierdie persone ontsê. Ook kan die denkfout ontstaan (tesame met die minderwaardigheidsgevoel) dat die betrokke wetenskapstaal die enigste taal is waarmee moderne idees en tegnieke weergegee kan word. Modernisering maak dit juis moontlik om die “uitheemse kennis” in elke taal te verinheems.
'n Probleem is die vermenigvuldigingseffek van die vertaling van verslae. In die Europese Ekonomiese Gemeenskap was daar in 1958 aanvanklik vier tale (Duits, Frans, Italiaans en Nederlands; dus 12 taalpare) wat in 1973 uitgebrei het na ses (Deens en Engels kom by; dus 30 taalpare), sewe in 1981 (Grieks; 42 taalpare), nege in 1986 (Portugees en Spaans; 72 taalpare) en elf in 1995 (Fins en Sweeds). Dit beteken die hoeveelheid unieke taalpare vir vertaling kom op 110 te staan, terwyl dit in 1986 nog 72 was. Teen 2013 is daar in die EU 24 verskillende ampstale, wat 552 taalpare beteken, waaruit daar wedersyds vertaal word; nie alleen Kroaties-Nederlands nie, maar ook Nederlands-Kroaties, ens. Dit beteken as 'n teks in Roemeens geskryf is, dit in al die 23 ander tale eerstehands vertaal moet word. Dit is wel gerieflik as 'n dokument dan in 'n 'groot' taal vertaal is (bv. in Frans, Duits of Engels), maar hierdie abbavertalings (waar tale op vertalings steun) kan die nuanse verkeerd oordra en aanleiding gee tot vertaalfoute. As mens die saak enduit wil voer en werklik al die ±6 500 tale ter wêreld tot hul volle reg wil laat kom, sal die wedersydse vertalings ±42 243 500 unieke vertalers (en woordeboeke) wêreldwyd (of 6 499 vertalers binne 'n enkele taalgemeenskap vir elke taal ter wêreld) benodig. Selfs al lewer ook die mees bedreigde taal die briljantste veeltaliges op, is hierdie ideaal eenvoudig onhaalbaar.
'n Kleiner taal kan egter wel die rommel veel makliker uitsif as een groot taal waarvan die een soekwoord tienduisend keer herhaal word, maar geen relevante inligting verskaf waarna die leser soek nie.
Verder is die wetenskapstaal alleen daar as hulpmiddel om die publiek in die onmiddellike omgewing tot die beste van jou vermoë te bedien. Die wetenskapstaal is nie verhewe bo die mens nie. Dit help byvoorbeeld nie die dokter ken slegs die Engelse terminologie uit 'n vaktydskrif, terwyl sy pasiënte Afrikaans is (van kinders tot bejaardes), wat baie swak Engels magtig is, en die volste reg het om helder en duidelik ingelig te word oor watter risiko's 'n sekere operasie inhou nie. So nie, verkeer die samelewing in geen beter toestand as toe Latyn in die Middeleeue die gewone Jan Alleman uitgesluit het nie. In Suid-Afrika is byvoorbeeld in 2006 bevind slegs 'n skamele 6% pasiënte wat Xhosasprekend is kry behandeling by 'n opleidingshospitaal in Kaapstad in hul moedertaal. Die meeste pasiënte is egter Xhosasprekend. Die res (94%) word afgeskeep, bloot as gevolg van die taalgrens. In die meeste gevalle praat die personeel nie Xhosa nie (hulle ken slegs Afrikaans en Engels) en net soms word 'n tolk gebruik. Dit is vir die ouers moeilik en frustrerend om die mediese personeel te verstaan, maar ook om self baie duidelik hul probleme en vrae te stel. In die meeste gevalle vind die Xhosasprekers die fout by hulself, nie by die personeel nie.[1] Soortgelyke bevindings bestaan ook in die Oos-Kaap.[2]
Te midde van die hoëfunksietaalwaarde en prestige, kon Duits as gesogte wetenskapstaal per se nie keer dat die Duitsers op Amerikaanse grond spoedig verengels het nie. Nog lank voor die stigma van die Eerste Wêreldoorlog speel ander faktore hier 'n rol: talle Duitse laerskole is in VSA gestig, maar geen hoërskole nie, met die gevolg dat die kinders hul opleiding by Engelse instellings moes voortsit. Mettertyd het Duits op Amerikaanse grond bloot die taal van die preekstoel, koerant en laerskool gebly. Party sektes wou gewoon toesien dat hul kinders kon lees, skryf en reken (die elementêrste opvoeding). Die tweetalige kind het dus in die knars gesit, tussen die Engels-eentalige intelligentsia en die massa wat lank Duits-eentalig gebly het. Toe die Duitsers in die 19de eeu die behoefte aan verdere onderwys begin insien, was Engels reeds die enigste medium van hoërskool en latere onderwys in die VSA.
'n Verdere nadeel is dat 'n boek en/of vaktydskrifartikel nie noodwendig gelees of aangehaal sal word nie, selfs al is die tale ook hoe aanverwant. Nederlands is byvoorbeeld so min tydens Apartheid deur Afrikaanssprekendes gelees dat mens feitlik elke sensuurwet in die wetboek kon breek sonder om in die geringste mate te vrees vir vervolging. Dieselfde geld natuurlik ook by die gebruik en wedersydse aanhaal in die wetenskaplike tekste. As die teks op die internet boonop agter ‘n betaalmuur is, sal die publiek dit hoegenaamd nie kan gebruik nie.
Afrikaans as wetenskapstaal
[wysig | wysig bron]Populêrwetenskaplike boeke in Afrikaans word alte dikwels swak bekend gestel en versprei en meestal nêrens geadverteer nie (juis omdat die publisering duur is); van hierdie werke word slegs 'n paar honderd verkoop. Party vaklektuur in Afrikaans wek slegs belangstelling vir 'n kort tydjie en vergaar dekades daarna nog stof op die biblioteekrakke en in tweedehandse boekwinkels, ongelees en vergete. Die meeste opspraakwekkende wetenskaplike boeke of handleidings uit die verlede word glad nie weer herdruk of hersien nie.
Om volwaardig tot 'n kultuurtaal te ontwikkel moet 'n moderne kultuurtaal oor al die belangrike vraagstukke van die eietydse (Westerse) kultuur, nywerheid en tegnologie wêreldwyd kan praat en skryf. Die Afrikaanse letterkunde alleen is nie genoegsaam om aan die taal voortbestaansrede te gee nie.
Die volgende probleme is in 1980 deur Jaap Steyn uitgewys, wat die wetenskapstaal betref:
- Afrikaans kan deur immigrasie van eentaliges (Engels) uit staatskorporasies en universiteite verdring word.
- Party Afrikaanse akademici raak heeltemal Engels-georiënteerd (wat dus glad nie Duitse, Franse, Nederlandse ens. werke raadpleeg nie), veral as hulle aan Amerikaanse universiteite gestudeer het; soms skryf hulle slegs handboeke in Engels aan studente voor.
- Ouer akademici beïnvloed studente wat graag in Afrikaans wil publiseer om liewer Engels te gebruik.
- Afrikaans kan net so min as Italiaans en Japannees op internasionale konferensies die voertaal wees.
- Dikwels sukkel die Afrikaanssprekende wetenskaplike met voordragte in 'n medium waarin hy nie behoorlik magtig is of tuis voel nie.
- Tydens Apartheid het daar 'n kulturele boikot tussen Afrikaans- en Nederlandssprekendes ontstaan. Waar dosente aan Nederlandse universiteite weens studente- of ander politieke druk verbied is om Suid-Afrikaanse dosente uit te nooi, het die Suid-Afrikaanse Staat Nederlandse boeke geboikot wat aan universiteite voorgeskryf is (later, in 1983, is Nederlands nie meer volgens wet gelykwaardig aan Afrikaans gestel nie, maar heeltemal uit die wetboek geskrap – die gevolge is ook dat Nederlands sedertdien nie meer op hoërskool in die Afrikaanse klas aangebied word nie).
- As die taal sy ekonomiese waarde verloor (in byvoorbeeld die staat of sekere beroepe), sal die moedertaalonderrig vir party ouers onaanneemlik word. Moedertaalonderrig sal dus alleen floreer as die moedertaal ekonomiese en ander hoë funksies buite die skool en kultuur het.
Die volgende oplossings is gegee:
- Die universiteite kan Afrikaans as wetenskapstaal bevorder deur verhandelings en proefskrifte aan te moedig.
- 'n Vertaaldiens kan artikels wat oorspronklik in Afrikaans verskyn persklaar maak om in die buitelandse media gepubliseer te word.
- Goeie handboeke kan in Afrikaans opgestel word en sodoende vakterme help skep.
- Afrikaans kan meer gereeld by nasionale konferensies ingespan word, met tolke waar nodig. Deur tolkdienste kan die spreker met selfvertroue sy gedagtegang oordra.
- Moedertaalonderrig en handboeke bied dikwels die eerste woordelys van vakterme wat die kind onder oë kry. Hier leer die kind om in sy eie taal te dink en begrippe uiteen te sit. So is die agteruitgang van Reto-Romaans, die taal van sowat 49 000 Switsers, 'n skamele 1,3 persent van die hele Switserse bevolking, gestuit omdat Reto-Romaans in die meeste distrikte van Graubünden die onderrigtaal geword het.
- Kulturele prestasies en waardevolle oorspronklike kultuur is die laaste loopgraaf vir 'n bedreigde taal. Dit gee aan die taal die werfkrag en betekenis, ongeag wat hy ook al moet inboet en verloor: die Romeine kon staatkundig oor die Grieke regeer, maar nie die Griekse kultuur aantas nie.
In ‘n Vaste plek vir Afrikaans (2006) deur Hermann Giliomee en Lawrence Schlemmer word die volgende punte uitgelig en opgesom:
- Afrikaans as wetenskapstaal het begin aan die universiteite waar dosente (wat geskool is in Engels, Nederlands en Duits) vakterminologie begin munt het; hier het ook studente dikwels 'n paar voorstelle gemaak.
- Die wetenskapstaal word beskou as 'n voorwaarde vir wetenskapsbeoefening, en om die wetenskapsbeoefening as deelkultuur in 'n samelewing na behore in stand te hou, moet dit geskied in die taal wat eie aan die kultuur is.
- Geen samelewing in die internasionale gemeenskap kan floreer in die wetenskap in 'n taal wat vreemd is aan daardie samelewing nie. Daarvoor is vakterminologie nodig. Onder andere vra die Nigeriese dosent in Engels, Kole Omotoso, in Season of migration to the south (p.114), as dit vir die Afrikaners nodig was om ‘n nuwe taal te ontwikkel, om sowel uitdrukking te gee aan die Westerse invloede, maar ook sy Afrika-ervaring, wat verhoed die Afrikataalsprekers dan om hierdie Westerse kennis en tegnologie nie in hul eie tale te verinheems nie?
- Tot ongeveer 1975 was daar 'n konstante groei van wetenskaplike artikels wat in Afrikaans in Suid-Afrika gepubliseer is. Daarna het Afrikaanse wetenskaplike artikels en boeke sterk afgeneem. Deels as gevolg van die taalkeuse van die nie-Afrikaanssprekendes en die toename van swart studente, het die aandeel van verhandelings en doktorale proefskrifte in die natuurwetenskappe van gemiddeld 35,8% gedurende 1960 tot 1973 tot 9% in 1996 gedaal. In die lettere en sosiale wetenskappe het Afrikaans (wat proefskrifte betref) tussen 1975 en 1996 van 62% tot 48% gedaal.
- In die tydperk tussen 1990 tot 2002 het die aantal wetenskaplike artikels in Afrikaans skerp agteruitgegaan. Van 90 713 artikels is 81 565 in Engels (89,9%) en 7 453 Afrikaans (8,2%). Die persentasie was in die publikasiejaar 1990 bykans 14%, in 2002 wel 5%. Twee derdes van die artikels is in die mediese, gesondheidswetenskappe, natuurwetenskappe en ingenieurswetenskappe gepubliseer.
- Die sosiale wetenskappe uit dieselfde tydperk (1990–2002) staan op 12,3%, die geesteswetenskappe op 26,6%. In die geesteswetenskappe is daar 'n daling van 35% in 1990/1991 tot 24% in 2001. Afrikaans kom hier net tot sy reg in die regte, die teologie, geskiedenis en filosofie.
- Ten spyte van die bovermelde statistiek, is bevind 40% van die 197 geakkrediteerde vaktydskrifte in Suid-Afrika oorweeg wel Afrikaanse artikels vir publikasie.
Bronne
[wysig | wysig bron]- (de) Ammon, U. 2014. Die Stellung der deutschen Sprache in der Welt. Berlin:De Gruyter. ISBN 978-3-11-039318-7
- (fr) Egmont, N. 2014. La langue des sciences. Science claires, 17 février.
- (nl) Frijhoff, W. 2010. Meertaligheid in de Goude Eeuw: Een verkenning. Amsterdam: KNAW Press.
- (af) Giliomee, H. & Schlemmer, L. 2006.’n Vaste plek vir Afrikaans: Taaluitdagings op kampus. Stellenbosch: SUN PReSS. ISBN 1-920109-16-1
- (fr) Hamel, R.E. 2013. L'anglais, langue unique pour les sciences? Le rôle des modèles plurilingues dans la recherche, la communication scientifique et l'enseignement supérieur. Synergies Europe (8): 53-56
- (nl) Jansen, E. 1982. Boekhandelaar provoceert censuur in Zuid-Afrika. De Volkskrant, 29 Januarie: 17
- (en) Knight, S. & Tilg, S (Eds.). 2015. The Oxford Handbook of Neo-Latin. Oxford University Press.
- (af) Lamey, A. 2018. Afrikaans as wetenskapstaal en hoe die publiek bedien word. Maroela Media. 14 Maart.
- (en) Lobachev, S. 2008. Top languages in global information production. The Canadian Journal of Library and Information Practice and Research 3(2): 1-12
- (nl) Jensen, L. & Jensen, S. 2019. English please, I don't speak Dutch. nrc.nl, 15 november.
- (en) Porzucki, N. 2014. Nobel Prize: How English beat German as language of science. BBC News, 12 October.
- (af) Steyn, J. 1980. Tuiste in eie taal. Kaapstad: Tafelberg-uitgewers, pp. 326, 420-426. ISBN 0-624-01408-8
- (en) /(fr) Waquet, F. 2001. Latin: or the empire of a sign. Translated by Howe, J. Le latin ou l'empire d'un signe. New York/London:Verso, p.180
- (de) Zimmer, D.E. 1996. Warum Deutsch als Wissenschaftssprache ausstirbt. Die Zeit 19. Juli.