Gaan na inhoud

Bipolêre gemoedsteuring

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Bipolêre gemoedsteuring
Klassifikasie en eksterne bronne
Bipolêre gemoedsteuring word gekenmerk deur afwisselende periodes van manie en depressie.
Bipolêre gemoedsteuring word gekenmerk deur afwisselende periodes van manie en depressie.
ICD-10 F31
ICD-9 296.0, 296.1, 296.4, 296.5, 296.6, 296.7, 296.8
OMIM 125480
DiseasesDB 7812
MedlinePlus   000926
eMedicine med/229
MeSH D001714
Mediese waarskuwing

Bipolêre gemoedsteuring is 'n siektetoestand wat gekenmerk word deur skommelinge in gemoedstoestand, vanaf uiterste depressie tot uiterste manie. Daar bestaan nuwe geneesmiddels daarvoor, en behandeling kan die simptome grootliks verlig en psigososiale funksionering verbeter.

Bipolêre gemoedsteuring het vroeër bekend gestaan as maniese depressie vanweë die gemoedsveranderings vanaf 'n opgewekte "maniese" toestand tot 'n toestand van algehele depressie. Die uitermatige gemoedskommelings wat lyers aan dié steuring ervaar, is vir hulle ontstellend en ontredderend en veroorsaak dat hulle nie normaal in die samelewing kan funksioneer nie.

Simptome

[wysig | wysig bron]

Persone wat aan bipolêre gemoedsteuring ly, ondervind gemoedstemmings wat wissel van maniese opwinding tot ernstige depressie, met periodes van normaliteit tussenin.

Alle mense ervaar skommelings van hul gemoedstoestand. Die verskil is egter dat mense met bipolêre gemoedsteuring soms kontak met die werklikheid verloor. Die gemoedskommelings kan drasties en skielik plaasvind, maar meestal is daar 'n geleidelike oorgang.

Die eerste episode van bipolêre gemoedsteuring kan 'n manies-depressiewe episode wees, of kan kenmerke van albei fases toon. Hierna kan jare volg waartydens die persoon geen simptome ervaar nie. Die simptome stem dikwels ooreen met dié van ander toestande, soos persoonlikheidssteurings, antisosiale gedrag, verslawingsteurings, ensovoorts. Dit is daarom belangrik dat alle faktore in ag geneem word voor die diagnose gemaak word. Psigotiese simptome, wat voorkom by ernstige geestesteurings, kan by bipolêre gemoedsteuring aanwesig wees, veral tydens die maniese fase. Dit gee daartoe aanleiding dat manie soms verkeerdelik as skisofrenie gediagnoseer word.

Hierdie simptome sluit 'n verskeidenheid waandenkbeelde en hallusinasies in, byvoorbeeld grootheidswaan, vervolgingswaan wat aan paranoia grens, gewaande liefdesverhoudings met bekende en vername persone, versteuring van gedagtegang en 'n onvermoë om te konsentreer.

Depressiewe fase

[wysig | wysig bron]

Die depressiewe fase van bipolêre gemoedsteuring word gediagnoseer indien gevoelens van ernstige terneergedruktheid en depressie konstant gedurende 'n periode van twee weke voorkom. Die persoon verloor ook alle belangstelling in voorheen genotvolle aktiwiteite. Dit het ook 'n negatiewe invloed op interpersoonlike verhoudings, beroepsaspekte, skoolwerk en ander belangrike funksioneringsgebiede. 'n Ernstige depressiewe toestand word ook gekenmerk deur die aanwesigheid van die meerderheid van die volgende simptome, gedurende die grootste gedeelte van elke dag:

  • neerslagtigheid,
  • opsigtelike gebrek aan belangstelling in byna alle aktiwiteite,
  • opsigtelike gewigsverlies (sonder dat 'n dieet gevolg word), of gewigstoename (ongeveer 5% van die liggaam se gewig binne een maand),
  • slapeloosheid of oormatige slaap, feitlik elke dag,
  • uitputting en 'n verlies aan energie,
  • gevoelens van nutteloosheid en skuld,
  • konsentrasie en geheueprobleme en 'n onvermoë om besluite te neem en/of
  • selfmoordgedagtes.

Maniese fase

[wysig | wysig bron]

Die maniese fase word gekenmerk deur 'n periode van uitermatige opgeruimdheid, 'n oormaat energie en geen behoefte aan slaap nie, asook geïrriteerdheid. Om as die maniese fase gediagnoseer te kan word, moet die toestand ernstig genoeg wees om die persoon se funksionering op onder meer beroeps- en sosiale vlak negatief te beïnvloed. Die simptome moet ook nie die gevolg wees van die misbruik van alkohol of ander middels nie en moet ook nie aan 'n siektetoestand te wyte wees nie. Die meerderheid van die volgende simptome moet aanwesig wees:

  • oordrewe selfvertroue of grootheidswaan,
  • behoefte aan slaap neem af,
  • spraaksamer as gewoonlik en verkeer onder druk om aan te hou praat,
  • ideëvlugte,
  • aandag is maklik afleibaar,
  • toename in doelgerigte aktiwiteite, psigomotoriese gejaagdheid en
  • oordrewe betrokkenheid by genotvolle aktiwiteite met die potensiaal om pynlike gevolge te hê, byvoorbeeld onoordeelkundige seksuele eskapades, onbesonne beleggings, ensovoorts.

Oorsake

[wysig | wysig bron]

'n Familiegeskiedenis van geestesteurings en genetiese samestelling blyk 'n belangrike rol te speel in die aanwesigheid van hierdie steuring en plaas mense in 'n baie groter risikogroep om wel die siekte te kry. Dit is egter nie bekend in watter mate oorerwing wel 'n rol speel nie, en in watter mate omgewingsfaktore bydra tot die toestand nie.

'n Toename in spanning en 'n onvermoë om dit te hanteer tree dikwels as snellermeganisme op vir die aanvang van die toestand.

Voorkoms

[wysig | wysig bron]

Volgens Amerikaanse statistieke raak bipolêre gemoedsteuring minder as een persent van die volwasse bevolking. Die gemiddelde ouderdom waarop die siekte begin, is 21 jaar. 'n Vyf- tot tienjaargaping kom dikwels voor tussen die ouderdom waarop die siekte begin en die ouderdom waarop vir die eerste keer aangemeld word vir behandeling.

By mans is daar 'n groter waarskynlikheid dat die eerste episode 'n maniese een sal wees, terwyl dit by vroue meer waarskynlik 'n depressiewe episode sal wees. Dikwels word verskeie depressiewe fases beleef voor die eerste maniese fase.

Behandeling

[wysig | wysig bron]

Verskeie faktore moet in ag geneem word wanneer op 'n behandelingstrategie vir bipolêre pasiënte besluit word. Dit sluit die kliniese fase waarin die pasiënt hom bevind (manies of depressief), die hoeveelheid en erns van vorige episodes, die voor- en nadele van die onderskeie behandelingsmetodes en die pasiënt se voorkeure in. Die resultate moet voortdurend geëvalueer word en behandeling moet daarvolgens aangepas word. Daar moet ook in gedagte gehou word dat ontkenning dikwels 'n belangrike deel van die steuring uitmaak en die pasiënt se vermoë tot besluitneming kan beïnvloed.

Daar bestaan tans geen geneesmiddel vir bipolêre gemoedsteuring nie. Behandeling verlig egter die ernstige simptome. Die doelwit met behandeling is om die gereelde herhaling, erns en psigososiale gevolge van episodes te probeer verminder en om psigososiale funksionering tussen episodes te verbeter.

  • Sielkundige behandeling

Psigoterapie is by die bipolêre pasiënt eerstens daarop gerig om ondersteuning te bied en insig te verbeter. Die taak van die psigoterapeut sluit in om die pasiënt te lei tot 'n beter begrip van bipolêre gemoedsteuring en hom sodoende te help om sy psigososiale aanpassing te verbeter. Persone wat aan die steuring ly, vind baat by geroetineerde gedrag en ook hierin moet die terapeut hom bystaan. Die pasiënt moet daagliks 'n bepaalde patroon handhaaf van aktiwiteite, slaap en eet - en die terapeut moet hom help om vas te stel in watter mate dit sy gemoedstoestand beïnvloed.

  • Farmakologiese behandeling

Farmakologiese ingryping verteenwoordig 'n baie belangrike deel van die behandelingsproses. Daar is medikasie beskikbaar vir die behandeling van akute episodes van depressie of manie, asook om aanvalle tot 'n minimum te beperk. Pasiënte kan ook daarby baat vind om tussen episodes medikasie te neem wat daartoe bydra om die gemoedstoestand te stabiliseer.

  • Elektrokonvulsiebehandeling

Elektrokonvulsieterapie blyk baie doeltreffend te wees in die behandeling van bipolêre gemoedsteuring, tydens sowel die depressiewe as die maniese fase.

Bronnelys

[wysig | wysig bron]
  • Basco MR, Rush AJ (2005). Cognitive-Behavioral Therapy for Bipolar Disorder (Second uitg.). New York: The Guilford Press. ISBN 978-1-59385-168-2. OCLC 300306925.
  • Brown MR, Basso MR (2004). Focus on Bipolar Disorder Research. Nova Science Publishers. ISBN 978-1-59454-059-2.
  • Joseph C (2008). Manicdotes: There's Madness in His Method. London: Austin & Macauley. ISBN 978-1-905609-07-9.
  • Goodwin FK, Jamison KR (2007). Manic–depressive illness: bipolar disorders and recurrent depression (2nd. uitg.). Oxford University Press. ISBN 978-0-19-513579-4. OCLC 70929267. Besoek op 2 April 2016.
  • Jamison KR (1995). An Unquiet Mind: A Memoir of Moods and Madness. New York: Knopf. ISBN 978-0-330-34651-1.
  • Leahy RL, Johnson SL (2003). Psychological Treatment of Bipolar Disorder. New York: The Guilford Press. ISBN 978-1-57230-924-1. OCLC 52714775.
  • Liddell HG, Scott R (1980). A Greek-English Lexicon (Abridged uitg.). Oxford University Press. ISBN 978-0-19-910207-5.
  • Millon T (1996). Disorders of Personality: DSM-IV-TM and Beyond. New York: John Wiley and Sons. ISBN 978-0-471-01186-6.
  • Robinson DJ (2003). Reel Psychiatry: Movie Portrayals of Psychiatric Conditions. Port Huron, Michigan: Rapid Psychler Press. ISBN 978-1-894328-07-4.
  • Sadock BJ, Kaplan HI, Sadock VA (2007). Kaplan & Sadock's Synopsis of Psychiatry: Behavioral Sciences/Clinical Psychiatry (Tenth uitg.). ISBN 978-0-7817-7327-0. Besoek op 2 April 2016.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
pFad - Phonifier reborn

Pfad - The Proxy pFad of © 2024 Garber Painting. All rights reserved.

Note: This service is not intended for secure transactions such as banking, social media, email, or purchasing. Use at your own risk. We assume no liability whatsoever for broken pages.


Alternative Proxies:

Alternative Proxy

pFad Proxy

pFad v3 Proxy

pFad v4 Proxy