Gaan na inhoud

Gereformeerde kerk Middelburg, Kaap

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Gereformeerde kerk
Middelburg, Kaap
Sluit in  Middelburg, Oos-Kaap
en distrik
Denominasie  Gereformeerde Kerk
Klassis  Karoo-Kei
Huidige predikant(e)  D.J. (Dirk) de Bruyn
Belydende lidmate  104
Dooplidmate  18
Adres Meintjiesstraat
Middelburg, Oos-Kaap
Geskiedenis
Stigtingsdatum  1 Desember 1860
Eerste predikant  M.P.A. Coetsee sr. (1869–1889)
Daar word algemeen aanvaar die Gereformeerde kerk Middelburg, Kaap, is die oudste kerkgebou van die kerkverband wat vandag nog as sodanig diens doen.Die hoeksteen van Colesberg se kerkgebou is wel eerste gelê, maar bouwerk aan die Middelburgse kerk is eerste voltooi.

Die Gereformeerde kerk Middelburg, Kaap is die oudste gemeente van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika op die Oos-Kaapse dorp Middelburg en die tweede oudste gemeente, naas Burgersdorp, van dié Kerkverband in die voormalige Kaapprovinsie.

Die stigting van die gemeente

[wysig | wysig bron]
Ds. Dirk Postma, grondlegger van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika en ook van die gemeente Middelburg, Kaap.
Die opstal op die plaas Grootfontein waarop die gemeente gestig is. Die gebou staan vandag op die perseel van die Landboukollege Grootfontein. Die destydse eienaar, broer S.W. Vorster, het dit in 1867 herbou soos dit nou lyk nadat dit in 1827 opgerig is.
Bordjie buite die kerkgebou wat lui dat dit die oudste in die kerkverband is.

Op 21 Januarie 1860 is die Gereformeerde kerk Burgersdorp deur ds. Dirk Postma gestig. Die beswaarde lidmate van Middelburg het van sy besoek verneem en 'n deputasie is na die plaas Roosterhoek gestuur met die versoek aan Postma om ook hier aan hulle 'n besoek te bring. So het dit gebeur dat ds. Postma gedurende Februarie 1860 'n groot byeenkoms van vriende en vyande op die plaas Grootfontein, waarvan C.J.H. Vorster en H.T.J. van der Walt die eienaars was, toegespreek het.

Volgens getuienis van tydgenote, soos opgeteken in De Vijftigjarige Feestviering te Middelburg, K.P., wou 'n groot aantal lidmate toe al hê dat ds. Postma hulle sou herstig as 'n Gereformeerde kerk, maar omdat hy gevrees het vir 'n oorhaastige besluit wat hulle later kon berou, was sy raad aan hulle om so 'n stap nie op daardie tydstip te doen nie, maar "weest voorzichtig en nuchter!" Dit ten spyt het vyf gesinne tog by hierdie geleentheid as lidmate van die Gereformeerde Kerk ingeskryf. Voornemende lidmate van die kerk het deeglik besef watter toekoms van opoffering, selfverloëning en stryd op hulle gewag het. Hulle het nie blindelings op die ingewing van die moment 'n sprong in die duister gegee nie; daarom dat, toe dit op hulle neergereën het, hulle nie vir hoon en smaad teruggedeins het nie.

Elf maande later het ds. Postma weer gekom en op 1 Desember 1860 en is die Gereformeerde Kerk Middelburg gestig. Dit was 'n ernstige stap, maar die jong en klein gemeente, met tussen 250 en 300 lidmate, het die toekoms met verbysterende moed en volharding ingegaan. Vir die destydse predikant van die NG kerk hier, ds. W. Murray, moes dit 'n bedroewende ervaring gewees het. Hy was nog ongetroud en het ingewoon by een van sy ouderlinge, H.T.J. van der Walt, mede-eienaar van Grootfontein. Hierdie ou vader het ook by die Gereformeerde Kerk aangesluit en is as ouderling verkies. "Van ds. Murray", getuig 'n tydgenoot, "kan ek niet dan goed getuigen. Hij was ons nooit kwaad gezind. Hij klaagde dat de steunpilaren zijner gemeente hem ontvallen waren". (Sy skoonsuster, mev. ds. Andrew Murray, was 'n ander mening oor die Gereformeerdes aangedaan en het by geleentheid gesê: "The only people I don't like are the Doppers. They are really such a dirty obstinate race."[1] Sy is gebore Emma Rutherfoord, 'n dogter van die welvarende Kaapse handelaar en sendingvriend Howson Edward Rutherfoord, en vanuit huis Anglikaans.) Die eerste notuleboeke van die kerkraad, tot 1869 toe die eerste predikant hier bevestig is, het ongelukkig nie bewaar gebly het nie. Hierdie boeke is seker van die begin af al vermis, want hierdie feit word ook betreur in die feesuitgawe met die vyftigjarige feesviering van die gemeente in 1910.

Dokumentêre gegewens oor die eerste nege jaar van die bestaan van die gemeente is dus maar baie skraal. Hoewel die eerste vaste predikant eers in 1869 hier bevestig is, bestaan daar tog bewyse dat daar reeds vroeër pogings aangewend is om 'n eie leraar te bekom. Volgens 'n beroepsbrief wat bewaar gebly het, is ds. J. Beyer van Reddersburg op 17 Augustus 1863 hierheen beroep. Eers in 'n skrywe van 1864 antwoord ds. Beyer op die beroep. Hy kla dat die beroepsbrief hom eers teen die einde van November bereik het. Voorts verwyt hy die gemeente: "Dat ek niet een eenige letter, noch van Kerkeraad of Gemeente ontvangen, waarin hunne begeerte en werkzaamheid, voor God in het verborgen, in deze zoo gewigtvolle zaak mij werd geopenbaar", terwyl sy eie gemeente (Reddersburg) hom beïnvloed het om te bly, want hulle het hom "als bestormden met smeekingen en gebeden, en brieven van meer dan 250 leden onderteekend, zoodat ik met vrijmoedigheid des harten" besluit het om te bedank.

Daar is onmiddellik begin met die bou van die kerk. Daarvoor is nie alleen mildelik bygedra nie, "maar, eigen wagen en ossen en eigen persoon waren niet te kostbaar om het werk des Heeren voort te zetten". Sprekend van die deeglike en omslagtige wyse waarop alles gedoen is, is die geskrewe ooreenkoms tussen W. Warner van Burgersdorp en ds. Postma namens die gemeente vir die maak en installering van die preekstoel, wat in 1868 gedoen is. Dit het £140 gekos, waarvan hy £93-6-8 in kontant ontvang het en aan skape £46-13-4.

Eerste leraar

[wysig | wysig bron]
Ds. M.P.A. Coetsee sr. was van 1869 tot 1889 Middelburg se eerste Gereformeerde leraar.

Verskillende predikante het die herderlike werk in die gemeente gedurende die eerste jare van sy bestaan gedoen, meestal ds. D. Postma van Burgersdorp af. Op 'n kerkraadsvergadering gehou op 29 April 1867, die eerste notule in die oudste bestaande notuleboek, en waarop ds. D. Postma as voorsitter opgetree het, is weer 'n beroep uitgebring, en wel op student M.P.A. Coetsee, "student bij den Leeraar Postma". Drie maande later behandel die kerkraad 'n brief van die beroepe student waarin hy die beroep aanneem. Dit kom tog snaaks voor dat hy eers op 6 Augustus 1869, dit wil sê twee jaar later, hier bevestig is. Die voor die hand liggende verklaring hiervoor is seker dat hy eers sy studie moes voltooi.

Die jong leraar se traktement het bestaan uit £300 aan kontant, 100 hamels, 20 mud meel en "zoo mogelijk ook brandstof, benevens vrije woning". Die helfte van die trougeld sou hom ook toekom. So was dit seker vir die gemeente 'n groot vreugde om, byna nege jaar ná sy stigting, sy eie predikant te hê in die persoon van ds. M.P.A. Coetsee sr. Ds. M.P.A. Coetsee is op 6 Augustus 1869 hier in die amp bevestig. Die jong leraar het dadelik begin om die gemeente en die gemeentelike werk behoorlik te organiseer. Om die ampte reg te laat fungeer, is dadelik besluit dat twee ouderlinge en twee diakens by elke erediens teenwoordig sal wees en by die afwesigheid van die predikant sal die ouderlinge godsdiensoefeninge waarneem. Ook die diakonie is behoorlik georganiseer. Vir hulle is 'n kassier benoem asook 'n kassier wat die boufonds moes behartig.

Die kerkgebou

[wysig | wysig bron]
Die kerkgebou met die saal links daarvan. Die kerk is ingewy op 14 September 1862.

Met die koms van ds. M.P.A. Coetsee was daar nog 'n (vir daardie tyd) aansienlike bedrag op die gebou verskuldig. Daar was sprake van £771-8-0 skuld op die kerk en die pastorie. Hierdie skuldelas moes die kerkraad baie kommer besorg het, want daar is gedurig daaroor gekla. Hierdie geld is blykbaar by lidmate geleen, want in Mei 1873 word met vreugde gerapporteer dat aan die here B. Vorster en G. van der Walt die bedrae £172 en £100 onderskeidelik afbetaal kon word. Toe was die balans van £75 nog verskuldig. So 'n bedraggie klink dalk klein, maar geld was destyds bitter skaars. Groot was dan ook die vreugde en innig die dankbaarheid toe die gemeente, 13 jaar ná sy stigting, 'n afbetaalde kerkgebou kon besit. Onmiddellik daarna is aan die werk gespring om die kerk van buite te laat pleister. Tenders is dan ook vroeg in 1874 daarvoor gevra, "de gevels met sement en de muren met kalk". 'n Tender vir £250 is aanvaar en die diakens, wat maar gedurig vir een of ander saak moes kollekteer, moes weer inspring. Die werk is gedurende 1875 gedoen en in Februarie 1876 word op die kerkraadsvergadering gerapporteer dat ook hierdie bedrag betaal is en dat daar nog 'n voordelige balans van £64 is. Die afgelope meer as anderhalf eeu kon die gemeente in dieselfde gebou aanbid. Die gebou geniet ook die onderskeiding dat dit die oudste kerkgebou in die Gereformeerde Kerk is wat nog in gebruik is.

Die koster en voorsinger

[wysig | wysig bron]
Die kerkgebou in sy oorspronklike vorm, hier afgeneem omstreeks 1916.

Hierdie onmisbare persoon het destyds 'n heel belangrike rol in die kerklike lewe gespeel. Die koster was nie bloot verantwoordelik vir die versorging van die eiendomme van die kerk en vir die versorging en voorsiening van die nodige by die eredienste nie, maar in sy hoedanigheid as koster het hy ook die kerkraadsvergaderings bygewoon. Dit was sy verantwoordelikheid om toe te sien dat die leraar die deel van sy traktement wat uit hamels, meel en brandstof bestaan het, sou ontvang. Hy moes dan ook gedurig hieroor aan die kerkraad verslag doen. Om enige misverstand oor sy pligte te vermy is daar in 1877 'n deeglike diensooreenkoms met die koster aangegaan.

Die voorsinger was nog 'n belangrike en onmisbare persoon by elke erediens, omdat daar toe nog geen sprake was van musiekbegeleiding by die gemeentelike sang nie. Trouens, dit sou eers ná baie jare toegelaat word dat 'n musiekinstrument in die kerk ingebring kon word. Die voorsingers het gedurig gewissel en daar was ook gedurig moeilikheid oor die wyse waarop hulle hul plig vervul het. Die beloning aan hierdie amp verbonde was gewoonlik £25 per jaar.

Die kassier en kerklike bydrae

[wysig | wysig bron]

Ook hierdie amp moes gedurig gevul word. Dis dan ook begryplik dat dit nie maklik was om 'n geskikte persoon te vind wat vaardig genoeg met syfers was om die kerkboeke te hou nie. Om in daardie jare diaken te wees was seker ook nie 'n benydenswaardige taak nie. Omdat bankrekenings in die vorige eeu onbekend was, moes daar vir elke afsonderlike behoefte by herhaling gekollekteer word. Die diakens was gedurig besig om vir die een of ander saak by die lidmate aan te klop en 'n mens kom onder die indruk dat die lidmate sodanig bygedra het dat hulle die diakens altyd aan die kollekteer gehou het.

Steynsburg

[wysig | wysig bron]

Op 16 Augustus 1872 maak ouderling A.P.J. Steyn van Bulhoek aan die kerkraad bekend "dat hij van voornemen is om tusschen dit dorp (Middelburg) en Burgersdorp een dorp aan te leggen". 'n Kommissie is benoem om die grense tussen die dorpe te bepaal en in November 1872 vra ouderling Steyn en diaken G.P.S. Venter 'n kommissie om die gemeente op Steynsburg te stig, deels uit Middelburg en deels uit Burgersdorp. Al bruidskat wat Steynsburg blykbaar van Middelburg ontvang het, is "de tavel, die hier toch niet gebruikt wordt". Dit was 'n welkome uitkoms vir lidmate wat van sover as die huidige Steynsburg hierheen vir sakramentsbediening moes kom, maar dit het tog moeilikheid veroorsaak met lidmate op die grens, wat met die verdeling aan Steynsburg se kant geval het en wat nog graag tot Middelburg se kerk wou behoort. Steynsburg kry dan ook opdrag om Middelburg van sulke gevalle in kennis te stel.

Die sending

[wysig | wysig bron]

Dis opvallend dat hierdie saak reeds vroeg in hierdie gemeente ter sprake kom. Op 11 Februarie 1871 word 'n gemeentevergadering gehou om vas te stel of alle lidmate die saak wel begryp en om aan elkeen die geleentheid te gee om sy besware te opper of om meer helderheid te bekom. Die saak is deeglik bespreek "waaruit blijkt dat die gemeente volstrekt niet tegen de zending is", en dan die treffende woorde: "maar allen maken bezwaar tegen gelijkstelling met die kleurlingen". Die vrees vir gelykstelling, gebore uit die ondervinding uit die geskiedenis en wat spreek van 'n suiwere aanvoeling vir die beveiliging van die Westerse beskawing in die toekoms, het die gemeente die besluit laat neem dat, indien daar onder kleurlinge 'n gemeente van die Gereformeerde Kerk gestig sou word, "die gemeente afzonderlijk zal behandeld word".

Onderwys

[wysig | wysig bron]

Die vele pogings wat aangewend is om aan die kinders van die gemeente behoorlike onderwys te verskaf, is genoegsame bewys dat die kerkraad die noodsaaklikheid daarvan besef het. Ongelukkig kon geen blywende werk gedoen word nie, aangesien hulle maar nie die geldelike las van die skool kon dra nie. Vanaf die begin van 1870 is 'n kerkskool op die dorp opgerig. As onderwyser is "beroep" H. Styger. In 'n plegtige skrywe, gedateer 27 Desember 1869 (wat bewaar gebly het) neem hy die "beroep" aan. Sy salaris sou wees £100 in kontant, 50 hamels en 10 mud meel. As hy die amp as voorsinger sou aanneem, sou dit 'n ekstra £25 per jaar beteken. Die bestaan van hierdie kerkskool op die dorp was egter van korte duur. Aan die einde van die eerste jaar het baie ouers hul kinders weer uitgeneem en ná twee jaar het die skool blykbaar ophou bestaan. Daar is later weer pogings aangewend met dieselfde resultaat.

Ook in die wyke was daar "buurtskole" onder toesig van die kerkraad. Ook was daar geldelike nood en die gebrek aan geskikte leerkragte was die groot struikelblok. Die onderwyspogings van die gemeente gedurende die eerste 30 jaar van sy bestaan was 'n voortdurende worstelstryd wat nie veel vrugte afgewerp het nie omdat die leerkragte nie gevind kon word nie, omdat die nodige middele ontbreek het en omdat baie ouers nie van die noodsaaklikheid van Christelike kerkskole oortuig kon word nie.

Vervoer

[wysig | wysig bron]
Die gemeente gaan die kerkgebou van dié kant af binne.

Daar is seker nie nog 'n aspek van die kerklike lewe en gemeentelike arbeid wat soveel opoffering geverg het as juis die vervoergeriewe nie. Afgevaardigdes is gereeld na die sinode gestuur, wat soms ver in die republieke sitting gehad het. Die diakens was verantwoordelik vir die vervoer van die afgevaardigdes en die vinnigste en gerieflikste vervoermiddel was perdewaentjies. Kostelik was die gespesifiseerde rekenings wat so 'n verantwoordelike diaken dan vir reiskoste aan die kerkraad voorgelê het. Een so 'n rekening het in 1885 die volgende bevat: Voer vir die perde £4-1-8; die beslaan van die perde met krammetjies vir die swingels £3-5-0; 'n bottel soetolie 1 s. 6d.; 'n keteltjie 3s.; 'n bottel brandewyn vir die perde 2s.; een hamel 16s.; vleis 5s.; bruggeld £1-2-6; tolgeld 4s. 6d.; vir die jong £1-10-0. En wat 'n opoffering moes dit nie gewees het nie om die lang afstande met so 'n stadige vervoermiddel oor swak paaie af te lê nie. Hoe sou ons nie vandag teen so 'n onderneming opgesien het nie! Maar vir ons vaders was daar geen ander uitweg nie. Hulle het geen opoffering te groot geag as dit gegaan het om die beginsels wat vir hulle dierbaar was en ter wille van die kerk wat hulle lief gehad het nie.

Vertrek van ds. Coetsee

[wysig | wysig bron]

Op 12 Julie 1889 behandel die kerkraad 'n brief van ds. Coetsee waarin hy eervolle ontslag vra as herder en leraar van hierdie gemeente daar hy 'n beroep na die Gereformeerde kerk Lydenburg aanvaar het. Ná 'n bedieningstyd van 20 jaar is die band tussen herder en leraar en gemeente gebreek. Dit was worsteljare en verstaanbaar dat dit vir die predikante van daardie tyd nie 'n maklike taak was om die gemeentes, so pas herstig, op die regte spoor te hou nie. Die predikant moes dikwels baie beslis en gedetermineerd leiding gee, met die gevolg dat hy soms ernstig met die kerkraad of met enkelinge in die kerkraad gebots het. Dit was sy taak om die fondamente te lê waarop sy opvolgers kon bou.

Ds. Postma se dienstyd

[wysig | wysig bron]
Ds. Martinus Postma, leraar van 1890 tot 1897.

Ná die vertrek van ds. M.P.A. Coetsee word op 11 Oktober 1889 'n beroep uitgebring op prof. Martinus Postma van die Teologiese Skool te Burgersdorp. 'n Maand later berig ds. Postma dat hy die beroep aanneem en nou word haastig reëlings getref vir die vervoer van die leraar met sy gesin en aardse besittings van Burgersdorp af hierheen. Die diakens kry opdrag om voorsiening te maak vir twee bokwaens en een ligte perdewa. Verder sou een ouderling en een diaken saamgaan om die gesin af te haal. Die bevestiging, wat deur 'n teologiese professor waargeneem sou word, is bepaal vir 11 Januarie 1890. Die koms van ds. Marthinus Postma het 'n nuwe tydperk van bestendigheid en stabiliteit in die bestaan van die gemeente ingelui. Heelwat veranderinge word aangebring wat die indruk skep dat die nuwe leraar ernstig probeer om die gemeente op gesonde grondslag te organiseer.

Hy het onmiddellik stappe gedoen om die katkisasie behoorlik te reël. Lesblaaie is gedruk sodat die kinders "altoos weten welke lessen voor te bereiden". Verder is 'n gebruik, wat tot hiertoe gegeld het, naamlik dat gemeentelede toegelaat is om die kerkraadsvergaderings by te woon, afgeskaf en sou die vergaderings voortaan geslote wees. So is ook 'n vorige besluit, wat aan die koster verlof verleen het om die kerkraadsvergaderings by te woon, herroep. Dis nogal opmerklik dat daar tot hiertoe geen kerkraadslede vir die dorp gekies is nie. Die grootste konsentrasie gemeentelede was natuurlik in die distrik. Eers in 1891 is daar vir die eerste keer kerkraadslede vir die dorp gekies.

Die Jongeliedevereniging het 'n swaar bestaan gemaak. In die eerste plek was daar nie 'n geskikte lokaal waar hulle kon vergader nie en een poging na die ander om die kerkgebou vir die doel te kon kry, het misluk. Na 'n jarelange stryd, na 'n pleidooi van ds. Postma, besluit die gemeente om die kerk vir die vergaderings van die JV af te staan. Vanselfsprekend wou die jong mense graag musiek van enige aard by hulle vergaderings maak. Hierdie begeerte het 'n nuwe stryd tussen die JV en die kerkraad aangeknoop, dog die kerkraad het die een versoek ná die ander geweier. Nooit kon toegelaat word nie dat die geraas van 'n musiekinstrument in die kerkgebou sou weerklink nie. Selfs die gebruik van 'n harmonium is in 1897 geweier.

'n Poging in 1892 aangewend om die Teologiese Skool van Burgersdorp na Middelburg verplaas te kry, het ook sy oorsprong in die kerkraad gehad. Argumente daarvoor gebruik, is dat Middelburg sentraal geleë is, dat die lewe hier goedkoop is, dat gevolglik meer studente hierheen getrek sou word. Die saak sou as beskrywingspunt na die Algemene Vergadering van die Kaapkolonie gestuur word en ondertussen sou die ouderlinge die lidmate by huisbesoek pols oor bydraes vir 'n vrywillige aanbod indien die skool hierheen verplaas sou word. Die feit dat die ouderlinge met hul rondgaan maar 'n skrale £221 vir hierdie doel kon vind, bewys dat die gemeente nie baie geesdriftig oor die saak was nie. Die Algemene Vergadering was ook nie vir die plan te vinde nie.

In 1891 het die sinode, te Rustenburg gehou, ds. Postma beroep as professor in die teologie aan die kweekskool van die kerk op Burgersdorp. Die moontlikheid dat die geliefde leraar die gemeente sou gou moontlik weer sou verlaat, was 'n groot skok, dog met vreugde het die gemeente die besluit van ds. Postma, dat hy die beroep nie opgevolg het nie, ontvang.

Gemeentefinansies

[wysig | wysig bron]
Die kerkraad in 1890. Drie van die kerkraadslede in die voorste ry spog met die kenmerkende haarstyl wat een van die verklarings is vir die moontlike oorsprong van die naam Dopper, want die gedagte is dat die Doppers, wanneer die hare geskeer word, 'n dop bo-op die hoof plaas, terwyl net aan die onderkant daarvan geskeer word. Die oorblywende hare gee dan self die idee van 'n dop.[2]

Soos tydens die bediening van ds. Coetsee het die finansies van die gemeente groot kommer veroorsaak en was daar maar gedurig 'n tekort op die predikant se traktement. Die diakens moes nog maar voortdurend kollekteer en om hul taak te vergemaklik is daar besluit om die lidmate te raam vir die leraar se "salaris". Toe dit ook nie 'n doeltreffende skema blyk te wees nie, is in 1895 besluit dat elke lidmaat een veertigste, naamlik 2,5% van sy inkomste vir die instandhouding van die erediens sou gee. Dis heel gou besef dat dit nie die nodige geld sou voorsien nie en toe is besluit dat elke lidmaat se bydrae een twintigste, oftewel 5% van sy inkomste sou wees.

Die diakens moes rondgaan om die 5% in te vorder. Hulle kom berig aan die kerkraad dat sommige lidmate nie tevrede is nie, maar van mening is dat ooreenkomstig die Heilige Skrif alle gawes by die kerkdeur in die kollektebussie gestort moet word. Die kerkraad is ook oortuig dat volgens Matt. 6:3, Mark. 12:41 en 1 Kor. 16:2 die lidmaat sy gawe self na die kerk moet bring en besluit om die saak voor die gemeente te lê. Die voorsitter (ds. M. Postma) bepleit die saak op die gemeentevergadering en na deeglike bespreking word die volgende besluit geneem: "Dat al die vroegere besluiten met betrekking tot die bijdragen der gemeente hiermede herroepen worden en de gansche gemeente volgens 1 Kor. 16 vers 2 elken Zondag bij de Kerkdeur geve en dat uit deze ene algemene kas alle kerklijke zaken en onkosten betaald worden en dat gedurende de overige 8 maanden des jaars hiervan eene proef genomen worde."

Die leraar wens die gemeente geluk met die besluit en meen dat as volgens genoemde Bybelteks gehandel word, daar nooit 'n tekort sal wees nie. Die gemeente moet ook in hierdie opsig daders van die Woord wees. Veral met grootkerkgeleenthede sou groot kollektes inkom en daarna sou alle rekenings, ook bedrae aan die Teologiese Skool verskuldig, vereffen word. Mooi kollektes is ontvang, dog dit was nie voldoende om in die behoeftes te voorsien nie en kerkraadslede moes gedurig bedrae voorskiet. Ná die proeftyd is besluit om met die skema voort te gaan. Vir 'n tyd altans was die diakens onthef van die verpligting om vir die instandhouding van die erediens te kollekteer en kon hulle seker hul aandag aan die versorging van die armes van die gemeente gee. Dis opmerklik dat die gemeente, ten spyte van die stryd om in eie behoeftes te voorsien, nog jaarliks iets kon afsonder vir die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap.

Iets wat opval tydens die bediening van ds. M. Postma is sy groot liefde vir en hartstogtelike geloof in die Gereformeerde waarhede soos vir hom beliggaam in die Gereformeerde Kerk. Hy het gedurig by sy eie kerkraad en by meerdere vergaderings van die kerk daarop aangedring dat die Gereformeerde leer, soos hy dit genoem het, deur die hele land gepropageer word. Die Gereformeerde Kerk moes doelbewus bekendgestel word, veral in stede en dorpe waar dit nie bekend was nie. Dit het hom diep gesmart dat hy hierin nooit sy sin kon kry nie. Dat die gemeente van Middelburg toe reeds bereid was om sy vlerke oor verspreidwonende lidmate buite sy grense uit te sprei, blyk duidelik uit die notule van die kerkraad. Lidmate op Cradock en Graaff-Reinet is besoek en daar is gereeld vir lidmate dienste op laasgenoemde plek gereël. Gegewe die primitiewe vervoergeriewe, besef 'n mens met watter liefde geloofsgenote in afsondering bejeën is. Toe die predikant van Middelburg eenmaal verhinder is om dit te doen, het die predikant van Steynsburg die lidmate te Graaff-Reinet via Port Elizabeth besoek. So is ook toe reeds aandag geskenk aan die lidmate in die Paarl.

Ds. Postma en die onderwys

[wysig | wysig bron]

Ds. Postma pak die saak van die onderwys in die gemeente dadelik met krag aan en hy wys die kerkraad op die noodsaaklikheid van die oprigting van skole. Hy is ten gunste van staatsondersteunde skole solank die Godsdiensonderwys nie daarmee skade sou ly nie. Sou die Godsdiensonderwys in sulke skole nie tot sy reg kom nie, moes vrye Christelike skole gestig word. 'n Opname het aan die lig gebring dat daar teen die einde van 1890, 250 kinders van skoolgaande ouderdom in die gemeente was, waarvan slegs 61 onderwys ontvang het. Ds. Postma wys die kerkraad daarop dat dit sy plig is om toe te sien dat hierdie kinders ook onderwys sal ontvang. Vir die doel word 'n skoolfonds gestig en 'n vereniging in die lewe geroep, waarvan die lede elk 6d. per week sou bydra. Aan die begin van 1891 is twee staatsondersteunde skole gestig, een op Wolvenkop en een op Wolvenfontein (in die wyk Willem Burgersrivier) waar altesaam 58 kinders van die gemeente onderwys ontvang het. Daar was nou altesaam vier skole in die distrik onder beskerming van die Gereformeerde Kerk.

In 'n verslag aan die Algemene Vergadering word vermeld dat die kinders in die skole ook voorberei word vir die belydenis van geloof, 'n vereiste wat destyds m.b.t. die skole baie sterk op die voorgrond gestel is. In 1892 kom ook die skool op Vogelfontein by en ontvang altesaam 84 kinders van die gemeente in die distrik onderwys. Uit jaarlikse verslae aan die Algemene Vergadering blyk dit dat die kerkraad goeie toesig oor die onderwys gehou het en dat die getal skole en leerlinge onder toesig van die Gereformeerde Kerk steeds toegeneem het. So het in 1893 140 Gereformeerde kinders in nie minder nie as 12 skole onderwys ontvang. Hierdie vordering ten opsigte van die onderwys in daardie jare het die gemeente onteenseglik te danke gehad aan die onvermoeide ywer en besieling van ds. Postma. Met sy geesdrif vir die onderwys van die kinders kon hy ook die gemeente inspireer en het die fondamente vir die onderwys in hierdie geweste deeglik gelê. Swaar tye gedurende die laat 1890's en die daaropvolgende oorlog het ook sy invloed op die skole gehad sodat baie gesluit moes word.

Ds. Postma vertrek na die Rand

[wysig | wysig bron]

Gesien die groot werk wat hy hier gedoen het, was dit vir die kerkraad en gemeente 'n skok toe ds. Postma op 14 Mei 1897 bekendmaak dat hy 'n beroep na die kombinasie Johannesburg-Krugersdorp ontvang het. Hoe graag hulle hom ook al wou behou het, het hierdie getroue dienskneg die moeilikste weg gekies en die roepstem na die stad gehoorsaam. Self skryf hy in die notule van die kerkraad: "Hoe innig verkleefd hij aan dezen Kerkraad en Zijne gemeente, als zijn eerste gemeente, is en hoe gaarne hij persoonlijk met de zijnen begeerde in hun midden te blijven, hij toch ook met het oog op de gewichtige roeping geene vrijmoedigheid kon gevoelen voor deze beroeping van Johannesburg-Krugersdorp te bedanken."

In die naweek van 20 Augustus 1897 is hy deur ds. W.J. Snyman van Venterstad van die gemeente losgemaak. Gedurende die sewe jaar van sy bediening hier het ds. Postma veel gedoen en tot stand gebring. Dog hy kon die roepstem na die groot stad, waar hy manalleen die Gereformeerde lidmate oor 'n groot gebied sou gaan bearbei, nie ongehoorsaam wees nie. Sy arbeid op Middelburg was geseënd. Sy nagedagtenis leef nog in die harte van die ouer lidmate en hoewel omstandighede oënskynlik alles wat hy op die gebied van Christelik-Nasionale onderwys vir die dorp en distrik gedoen het, vernietig het, het hy in der waarheid ewigheidswerk gedoen wat mensehande nie kon vernietig nie.

Ds. Stephanus Postma bevestig

[wysig | wysig bron]
Professore en studente van die Teologiese Skool op Burgersdorp in 1897. Ferdinand Postma sit voor links. In die middel sit J.D. du Toit (Totius) tweede, proff. Jan Lion Cachet vyfde en Stephanus Postma sesde van links. Agter regs staan ds. Dirk Postma, die seun van Marthinus Postma, leraar van Middelburg van 1890 tot 1897. Hy was prof. Stephanus Postma se halfbroer.
Ds. Stephanus Postma, leraar hier van 1897 tot 1904.

Op 25 September 1897 is ds. Stephanus Postma hierheen beroep. Hy het hom die beroep laat welgeval en die bevestiging het plaasgevind op Saterdagoggend 8 Januarie 1898. Sy salaris sou wees £350 en 20 sak koring. Laasgenoemde is later weggeneem en die "salaris" is verhoog na £375 per jaar. Hoewel die stelsel van kollektes by die eredienste vir die kerklike uitgawes nog in gebruik was, moes gedurende 1898 daarvan afgesien word omdat die kerkskuld te hoog geloop het. Die diakens moes maar weer inspring en die insameling van die kerklike bydraes vir hul rekening neem. Met die nuwe leraar as voorspraak wen die JV nou die stryd en kry verlof om 'n musiekinstrument in die kerk te gebruik tydens hul vergaderings, met die ondubbelsinnige voorwaarde dat "het geschiede met orde en stichting".

Die kerkraad is nog gedurig besig met die behartiging van die geestelike belange van die lidmate op Cradock, Graaff-Reinet, Worcester en Paarl. Gedurende die jaar 1898 is 'n ouderling spesiaal vir die wyk Cradock gekies en wat die bediening van die lidmate op Graaff-Reinet betref, sou dit nou ook makliker gaan nadat die spoorlyn tussen Middelburg en Graaff-Reinet in dieselfde jaar voltooi is.

Kerkgebou te klein

[wysig | wysig bron]

Dat die kerkgebou te klein vir die gemeente geword het, blyk uit die verskillende voorstelle wat gedurende 1898 voor die kerkraad gedien het. Daar was sprake van 'n nuwe kerkgebou op te rig of om galerye in die bestaande gebou aan te bring. Laasgenoemde plan is uitgevoer: die galerye is in 1899 gebou en op 30 Maart 1900 kon die kerkraad die voltooide werk inspekteer. Daar is bepaal dat die linkervleuel deur die susters en die regtervleuel deur die broeders gebruik word. In 1899 is die winkel van Chas. du Plessis langs die kerk vir £1 500 deur die gemeente aangekoop. (Dis die erf waarop die vorige en die huidige kantoor gebou is). Die koste van hierdie aangekoopte erf en die bedrag wat vir die galerye betaal is, het 'n swaar skuldelas op die gemeente geplaas.

Tweede Vryheidsoorlog

[wysig | wysig bron]
Die kerkraad in 1897.
Die doodsvonnis word voor die kerkgebou uitgespreek oor die Kaapse Rebelle P.J. Wolvaardt en kmdt. Hans Lötter.

Die Engelse oorlog het ook sy weerklank in hierdie gemeente gehad en die kort ampsbediening van ds. Postma hier word in 'n groot mate beheers deur die skokke van die oorlog. Reeds voor die oorlog doen ds. J.A. van Rooy vanaf Nylstroom per telegram 'n beroep om liefdadigheid vir noodlydende families met die oog op die verwagte oorlog. Die plaaslike leraar word teen die einde van 1899 gekies op die plaaslike "Publieke Komitee" wat benoem is "om giften te verzamelen voor gewonden, weduwen en weezen in Transvaal en Vrijstaat". So word daar op 1 Desember 1899 ook deur die gemeente 'n biduur gehou "wegens den toestand des lands".

Van oral vandaan het oproepe gekom ter leniging van die stoflike en geestelike nood deur die oorlog veroorsaak. 'n Voorbeeld hiervan is 'n skrywe van ds. Petrus Postma (krygsgevange op Ceylon) wat die kerkraad op 9 November 1900 behandel en waarin hy Bybels, Psalmboeke en Kortbegrippe vra. Die kerkraad was altyd bereid om na vermoë hulp te verleen. Die gemeente, enigsins buite die hitte van die stryd, het ook skuiling aan geteisterdes gebied. Ds. L.J. du Plessis van Petrusburg vra in 1902 verlof om tydelik hier te kom woon omdat, soos hy dit genoem het, sy gemeente deur die oorlog verwoes is. Die gevraagde vergunning word nie alleen toegestaan nie, maar die kerkraad besluit ook om maandeliks 'n bedraggie uit die kerkkas tot die onderhoud van sy gesin by te dra.

Dit het die gemeente groot smart aangedoen om in 1900 te verneem dat 'n vorige geliefde leraar, ds. Martinus Postma, krygsgevangene in Oos-Londen was "omdat Z.Eerw. weigerde om den eed van neutraliteit af te leggen". Die skriba van die Geref. Kerk in Johannesburg, S.J. Buys, het per brief aan hierdie gemeente 'n versoek gerig om ds. Postma geldelik te ondersteun, wat die gemeente dan ook, ten spyte van sy groot verpligtinge, met graagte gedoen het. Dis opmerklik dat ds. Postma in Engels aan die kerkraad skryf. Dit was natuurlik 'n vereiste sodat die Britse bevelhebbers die briewe behoorlik kon sensor. Toe die kerkraad berig ontvang dat ds. Postma op parool vrygelaat is, is dadelik pogings aangewend om hom met sy gesin hier te huisves vir die duur van die oorlog, mits die militêre owerheid dit sou toelaat. Die owerheid wou dit natuurlik nie toelaat nie en selfs ná sy loslating in 1902 wou hulle hom nie toelaat om op sy terugreis na Johannesburg by Middelburg aan te doen nie.

Ds. Postma se dood

[wysig | wysig bron]
Ds. Stephanus Postma is op 8 Februarie 1904 op Middelburg oorlede ná 'n smartlike lyding weens 'n maagkwaal.
Die Sinode van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika op Middelburg, Kaap, April 1904. Dis veral 'n belangrike vergadering omdat die besluit hier geneem is om die Teologiese Skool van Burgersdorp na Potchefstroom te verplaas. Voor: (vyfde van links) G.H.J. Kruger. Eerste ry op stoele: (vyfde van links) ds. A.J.J. de Klerk Coetsee, oudl. G. Henning, J.G.H. van der Walt, L.J. du Plessis, prof. Jan Lion Cachet, Petrus Postma, J.D. du Toit, P.C. Snyman, Taetse Hamersma. Eerste ry staande: (sesde van links) Willem Postma, Martinus Postma, J.A. van Rooy, onbekend, prof. Jan Kamp, W.J. de Klerk, J.C. Kruger, J.A. du Plessis, W.J. Snyman, Dirk Postma.

Kort ná die Driejarige Oorlog het die gemeente besluit om oor te gaan tot die bou van 'n nuwe pastorie. Na beraming sou die nuwe pastorie £1 000 kos en dit word besluit om te begin bou sodra tweederdes van die bedrag ter hand sou wees. £240 is dadelik geteken en toe drie lidmate, met 'n skenking van £300, die bedrag na £540 opstoot, is dadelik begin met die werk. As boukommissie is benoem die brs. J.J. Coetzee, J. Vorster en P. Kruger. Toe laasgenoemde se tender vir die gebou aanvaar is, moes hy op die boukommissie vir H.J.T. Duvenage plek maak. Die nuwe pastorie (die gebou wat gesloop is toe die huidige een in 1954 gebou is) is in 1904 voltooi. Hoe het ds. Postma en sy gesin miskien nie daarna uitgesien om dit te bewoon nie, maar dit was hulle nie gegun nie.

Vroeg in 1904 sou 'n swaar beproewing oor die gemeente kom. Teen die einde van 1903 maak ds. Postma aan die kerkraad bekend dat hy aan 'n maagkwaal ly, waarvan almal bewus was. Aan hom word twee maande siekteverlof toegestaan, wat dan ook die einde van sy aktiewe bediening van die gemeente was. Op bekwame en gevoelvolle wyse is die verhaal van sy siekte en afsterwe te boek gestel deur ouderling P.W. van der Walt in 'n brosjure getitel "De Laatste Dagen van Den Weleerw. Zeer Gel. Heer S. Postma, B.A." Ds. Postma is vir mediese behandeling na Kaapstad. Op 10 Januarie 1904 skryf hy die laaste brief aan die Kerkraad van die warmbronne op Caledon af. Die brief is 'n triomf van geloofsvertroue en berusting. Nog verlaas word die broeders en susters, jongeliede en kinders 'n geseënde jaar toegebid.

Kort daarna vertrek oudl. Van der Walt en mev. Postma na Kaapstad waar haar eggenoot 'n operasie sou ondergaan. Die operasie het egter nie plaasgevind nie en ds. Postma is teruggebring na Middelburg. Hier is die dienskneg van die Here, ná 'n smartlike lyding wat hy in die geloof deurworstel het, op Maandagaand 8 Februarie 1904 in die jeugdige ouderdom van 39 jaar oorlede. Die teraardebestelling het op Woensdag 10 Februarie onder blyke van groot belangstelling plaasgevind. Trooswoorde is gespreek deur ds. P.C. Snyman van Steynsburg, prof. Jan Lion Cachet, ds. Winter van die NG Kerk, ds. T. Hamersma, ds. Dekker van die sendinggemeente en die landdros. Dis duidelik dat die hele gemeenskap gedeel het in die onherstelbare verlies wat die gesin en die gemeente gely het. Die eggenote en kinders (o.a. die latere prof. Ammi Postma van die PU vir CHO) het op 'n moeilike tydstip die liefde en sorg van 'n eggenoot en vader verloor. Die gemeente het 'n geliefde leraar moes afgee en die Gereformeerde Kerk het 'n begaafde predikant in die krag van sy lewe verloor toe manne van sy formaat so nodig was.

Herderloos en lamgeslaan moes die gemeente nou voorbereidings tref vir die ontvangs van die Veertiende Algemene Sinodale Vergadering van die Gereformeerde Gemeentes in Suid-Afrika wat vanaf 11 April 1904 hier sitting sou hê. Hierdie sinode wat tot 24 April geduur het, is geskiedkundig in die opsig dat daartydens besluit is om die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk van Burgersdorp af na Potchefstroom te verplaas.

Ds. Postma se opvolgers

[wysig | wysig bron]
Ds. Johan Wilhelm Jansen van Ryssen, leraar hier van 1945 tot 1948.
Ds. Johannes Gerrit Hendrik van der Walt was Middelburg se leraar van 1903 tot 1939 en is hier oorlede in Februarie 1956.

Die gemeente van Middelburg was diep aangegryp deur die dood van ds. S. Postma op 8 Februarie 1904. Slegs sowat ses jaar kon hierdie dienskneg van die Here as bedienaar van die Woord in die Kerk arbei. Slegs ses jaar maar 'n tydvak wat swaar gelaai was met spanning en sorge, met kommer en smarte. Die meegevoel met die twee Republieke was by baie nie net lippetaal nie, dog die daad is by die woord gevoeg: rebellie! Die gevolg hiervan was dat galge orals opgerig is, dat die vuurpeleton orals opgestel is. Talle Kaapse rebelle moes hul oortuiging dat Brittanje 'n groot onreg pleeg teenoor die Republieke met hul lewe bekoop. Ook Middelburg het etlike burgers verloor — nie alleen op die slagveld nie, maar ook aan die galg en voor die gewere. Dit was in hierdie doker tyd dat ds. Stephanus Postma die herderstaf hier moes dra. En hy het homself nie ontsien nie. Vir die kerklik-bepaalde tyd is die weduwee Postma en haar gesin nog deur die gemeente versorg. Hierby besluit die kerkraad om in Mei weer te beroep en op 27 Mei 1904 word ds. D. Postma (Rustenburg) beroep. In die notule word nie gelees wat ds. Postma se antwoord was nie, dog dat hy bedank het vir die beroep, ly geen twyfel nie, want op 16 Julie 1904 word ds. J.G.H. van der Walt met 'n groot meerderheid van stemme beroep; op 26 Augustus kon die kerkraad met dank kennis neem daarvan dat die beroep aanvaar word. Ds. Van der Walt word op 9 Oktober 1904 bevestig te Middelburg en dit is die aanvang van 'n besonder lang bedieningstyd, wat strek tot aan sy emeritaatsaanvaarding op 17 April 1939. Hierna het ds. Van der Walt (met 'n kortstondige onderbreking) nog in Middelburg bly woon totdat hy op 6 Februarie 1956 oorlede is.

Ongeveer 35 jaar lank het hy hier gearbei; ongeveer 50 jaar hier gewoon. Ds. Van der Walt moes leiding gee in die moeilike jare ná die Engelse oorlog; hy moes uit Gods Woord die koers aandui in die moeilike tye van die griepepidemie en depressie; hy moes aan die roer staan toe ook op die groot wêreldtoneel storm geheers het (1914–1918) en toe Suid-Afrika weer ervaar het wat rebellie is. Die krag en betekenis van hierdie lang bedieningstyd is vir my egter bo alles daarin geleë dat sterk na binne gearbei kon word, dat 'n voortdurende bediening van die Woord die gemeente sterk ten goede was. Ds. Van der Walt word op 21 Oktober 1939 deur dr. B.J. de Klerk opgevolg, wat die gemeente dien tot 2 September 1944. Gedurende die tydperk 6 April 1945 tot 23 Januarie 1949 is ds. J.W. Janse van Ryssen die predikant; ná sy vertrek is daar 'n lang tyd waarin die kerkraad nie daarin kon slaag om 'n predikant te bekom nie, want die vakature duur tot 9 September 1950, toe dr. J.M. de Wet hier bevestig word. Dr. De Wet bedien die gemeente twee jaar lank — op 21 September 1952 vertrek hy na Rustenburg. Hierdie keer slaag die kerkraad veel gouer daarin om 'n predikant te kry, want prop. B. Spoelstra word op 7 Februarie 1953 hier bevestig. Nadat hy die gemeente byna vyf jaar lank bedien het, vertrek ds. Spoelstra op 2 November 1957 na Bellville. Weer is dit 'n lang tyd van herderloosheid. Dit duur tot op 1 Augustus 1959 toe ds. W. Venter bevestig is as predikant.

Die sending

[wysig | wysig bron]
Ds. en mev. B.J. de Klerk en vermoedelik hul dogter, Mathilda, op haar troudag. Hy was die leraar hier van 1939 tot 1944.
Ds. De Klerk toe hy hoogleraar aan die Teologiese Skool op Potchefstroom was. Hy is in 1953 oorlede.

Hoewel dit nie lyk asof binne eie gemeente daadwerklik 'n sendingaksie geloods is nie, het die kerkraad tog nie afsydig gestaan teenoor die sendingsaak nie. Die intieme meelewing met die sendingwerk is veral daardeur tot stand gebring dat die Algemene Vergadering in 1911 die sendingwerk aan die deur van die kerk alhier kom neerlê het. Op 24 Maart 1911 rapporteer oudl. D. van der Walt, wat as deputaat van Middelburg op die Alg. Verg. teenwoordig was, soos volg: "De gemeente Burgersdorp, aan wie de zending te Humpata door de Sinode werd opgedragen, heeft 't niet mogelijk gevonden dat werk onder haar toezicht te nemen omdat de vrije school in die gemeente al haar aandacht eist. De A.V. heeft hierom deze gemeente verzocht 't zendingwerk in Humpata onder haar toezicht te nemen". Hieroor word besluit: „ de toezicht over de zending te Humpata te aanvaarden. Tevens wordt besloten de zendingkommissie op te dragen namens de kerkeraad in zake de zending te korresponderen en van tyd tot tyd by de kerkeraad verslag te doen."

Op die kerkraadsvergadering van 12 Mei 1911 word meegedeel dat £14 van die jaarlikse salaris (£50) van br. Graphorn wat die werk in Humpata verrig het, deur die gemeentes van Kaapland voorsien moet word. Dit word toe ook in die vooruitsig gestel dat die gemeentes van Kaapland eerlang verantwoordelikheid vir die volle £50 per jaar sal moet aanvaar. Telkens word vanuit Humpata berig ontvang en word "goede vooruitgang" aan die kerkraad gerapporteer. Die "goede vooruitgang" het waarskynlik nie tot baie groot resultate gelei nie, want dit lyk of die saak van die sendingwerk te Humpata mettertyd nie meer op die kerkraadsagenda verskyn nie. In die notule van 15 Mei 1914 is die mededeling dat br. Graphorn om gesondheidsredes die werk nie meer kon doen nie; dan ook "daar er op 't ogenblik met die (inboorlinge) oorlog in Angola is en, volgens de nieuwsbladen de zendelingen gevlucht zijn" dat daar in daardie stadium nie iemand in die plek van br. Graphorn gestuur sal word nie. Dit blyk dat die sendingwerk in Angola doodgeloop het.

In die Eeufeesjaar van die gemeente het die kerkraad nog 'n Sendingkommissie gehad. Die kerkraad steun die sendingwerk van die plaaslike NG. Kerk finansieel, en die Sendingkommissie het toestemming verkry van die NG kerkraad om ook die vergaderings van die Sendingkommissie van die NG kerk by te woon om sodoende kennis te kan neem van wat gedoen word op die sendingerf, waarvoor dan van ons kant die finansiële steun is.

Die Christelik-nasionale onderwys

[wysig | wysig bron]
Die Normaalskool op Steynsburg waar in die loop van 37 jaar sowat 850 onderwysers opgelei is. Dié onderwyskollege is einde 1950 gesluit toe slegs 10 studente oorgebly het. Middelburg se Gereformeerde kerk het die skool deurgaans geldelik gesteun.

Vermoedelik was die groot tyd van die CNO in hierdie tweede halfeeu van die bestaan van die plaaslike kerk reeds al agter die rug. Hoewel dit vermoedelik so was, het hierdie lewensbelangrike saak die kerkraad in ons tydvak tog nie koud gelaat nie. Reeds op 11 Mei 1906 meld die notule van die kerkraadsvergadering "dat de kerkraad reeds werkt in de richting van het oprichten van een Nationale School". Op 5 Oktober 1906 word besluit om 'n vereniging ter bevordering van CNO te stig. Hierdie vereniging sou in Januarie 1907 vergader (dis nie bekend of dit gebeur het nie). Dit is nie duidelik uit die kerkraadsnotule of die aktiwiteite van hierdie vereniging uitgeloop het op skoolstigting of nie. Vanaf Mei 1907 verskyn die saak van "Normaalklasse aan de School te Steynsburg" in die notule. Dit was 'n gedurige worsteling om die nodige geld bymekaar te kry. In November van dieselfde jaar word aan die kerkraad gerapporteer dat die kerk van Middelburg £30 per jaar vir die skool op Steynsburg moet stort. Die kerkraad besluit om dit te doen en "dat dit morgen namiddag aan de Gemeente zal worden medegedeeld". Verder word in die notule nie belangrike besluite in verband met CNO gevind nie, behalwe dat op 19 Augustus 1911 deur ds. Van der Walt die volgende aan die kerkraad gemeld word: "dat hij 10 broeders uit de gemeente (uit elke wijk een) heeft verzocht zich tot een kommissie te vormen om te werken voor 't Kristelik nationaal onderwijs, hoofdzakelik met de bedoeling om fondsen bijeen te verzamelen om tot de oprichting van een plaatselijke C.N.O. school te komen". Vermoedelik het die aksie wat in Mei 1906 van stapel gestuur is, doodgeloop. In later jare meld die notule nog maar net dat dit gaan om die steun aan die opleidingskool op Steynsburg — tot die skool helaas ook weens gebrek aan ondersteuning gesluit moes word. Hierna strek die belangstelling in CNO nie verder nie as om kennis te neem van wat op meerdere vergaderings in hierdie verband bespreek en besluit word.

Halfeeufees

[wysig | wysig bron]
Ds. J.G.H. en mev. Finnie van der Walt. Sy is in 1937 oorlede, waarna hy weer getroud is. Hy was die leraar hier van 1904 tot 1939.

Reeds so vroeg as 1907 al begin die kerkraad aandag gee aan die komende halfeeufees. Dit is egter nie altyd duidelik uit die notule welke halfeeufees bedoel word nie. Die halfeeufees van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika het ook toe al binne die gesigskring gekom — en dan ook plaasgevind voor die halfeeufees van die kerk van Middelburg s'n. Eers ná Februarie 1909 is dit duidelik dat dit beslis handel oor die halfeeufees van die plaaslike kerk. Voor daardie datum gaan dit vermoedelik oor die halfeeufees van die hele Kerk in Suid-Afrika.

Op 4 Oktober 1907 word geskryf: "Daar het 50 jarige bestaan onzer kerk over een jaar feestelijk herdacht zal worden …" Dit het waarskynlik te doen met die Kerk in Suid-Afrika — maar gereken vanaf Oktober 1907 was dit nie "over een jaar nie" nie, maar wel oor 'n jaar en vier maande. Toe is in elk geval besluit om met die oog daarop 'n vleuel aan die kerk aan te bou as "blijvende herinnering aan voormelde heugelijke gebeurtenis". Toe hierdie besluit van aanbou geneem is, was die probleem om die geld vir hierdie doel byeen te kry. 'n Skatting deur die respektiewe wyksdiakens kom te staan op £1 550. Die geld kon egter nie gevind word nie, sodat op 3 April 1908 alreeds besluit word "dat die lijsten vernietigd worden en in plaats daarvan besluit de gemeente een dankoffer bijeen te verzamelen bij de feestviering onzer Kerk in 1909 dat gestort zal worden bij de Bouwfonds". Die Jongeliedevereniging het ook deel gekry aan die halfeeufees. Art. 21 van die notule van 22 Januarie 1909 sê "dat het de Jongelieden der gemeente geoorloofd is als 'n blijk van dankbaarheid bij 't 50-jarig bestaan van de Geref. Kerk in Zuid Afrika de Kerk met twee luchtpompen te voorzien". Die "luchtpompen" was waarskynlik ventilators wat op die dak van die Kerk aangebring is.

Hierna kom egter die gemeentelike halfeeufeesviering duidelik na vore. Op 14 Mei 1909 word besluite geneem oor die gekollekteerde vee vir die jubileumdankoffer. Seker omdat die insameling nie soveel gelewer het as waarop oorspronklik gereken is nie (£1 550), moes die kerkraad van die aanbouplan afsien. ('n Argitekstekening van die voorgestelde aanbouplan, opgestel in 1907, het minstens in 1960 nog bestaan.). In Februarie 1910 word besluit: " 't geld verkregen voor 't Dankoffer by 't 50-jarig bestaan der Kerk, zal besteed worden aan een klankbord en een klok voor de Kerk". Die klankbord moes nie meer as £20 kos nie. Op 13 Mei 1910 maak die notule melding van die besluit waarna vermoedelik in die boekie "De Vijftig-jarige Feestviering te Middelburg, K.P." verwys word waaraan geskryf staan: "Toen de Kerkeraad zes maanden geleden besloot, om het vijftig jarig bestaan van de Middelburgse gemeente, dat op 1 Des. 1910 zou plaatsvinden, feestelik te herdenken …" Op 13 Mei 1910 dan besluit die Kerkraad: "om 't vijftigjarig bestaan der gemeente in Dec. a.s. feestelijk te herdenken". Op 23 September word die feesprogram goedgekeur en "de leraar legt de wenselijkheid der vergadering voor om de jongelieden der Gemeente voor gaslichten in de Kerk te doen kollekteren ter aandenking van 't 50-jarig bestaan dezer gemeente". Dat hierdie ligte verkry is, ly geen twyfel nie — of dit wel vir die feesviering gereed was, is nie bekend nie — want in latere notule is daar telkens 'n rekening vir "carbide gepasseerd". (Baie later het die klein geboutjie in die noordoostelike hoek van die kerkterrein nog die naam van "gaskamertjie" gedra.)

Die halfeeufees is op die bestemde tyd gevier. Die feesverrigtirige, waarby agt Gereformeerde predikante en een teologiese professor (dr. J.D. du Toit) teenwoordig was, word mooi weergegee in gemelde uitgawe "De Vijftig-jarige Feestviering te Middelburg K.P.". daar staan onder meer: "Beknopt Verslag. Reeds vroeg in Okt. 1910 werd er door de kerkeraad 'n reeks van diensten georganiseerd om het 50 jarig bestaan der gemeente feestelijk te herdenken. Al deze diensten mochten op 1 ste, 2de en 3de December plaats vinden tot roem en prijs van de naam des Heren en tot onze grote vreugde. De gemeente was goed opgekomen en van het begin af heerste er 'n stille feestvreugde die, zo we hopen, het Hoofd der kerk welgevallig geweest was.

"De volgende leraren waren tegenwoordig: Ds. M. Postma, M.A., (Johannesburg), ds. L. P. Vorster (Rustenburg), ds. T. Hamersma (Philipstown), ds. P.C. Snijman (Steynsburg), ds. D. Postma (Burgersdorp), ds. P. Bingle (Colesberg), ds. Venter (Ventersburg), en de plaatselijke leraar ds. J.G.H. van der Walt. Ds. J.A. du Plessis, die 'n lezing zou geven bij deze gelegenheid moest ons door onvermijdelijke omstandigheden teleurstellen. Ook vreesden wij dat dr. Du Toit door de ernstige ziekte van Z.Ew's. vader niet zou kunnen komen. Gelukkig kwam daarin zulk een verandering dat hij toch nog kon komen en Vrijdagavond arriveerde.

"Donderdagochtend trad ds. L. P. Vorster als feesredenaar op. Hij las Ps. 68 en nam als tekst verzen 16 en 17. In plaats van de lezing door ds. J.A. du Plessis preekte ds. P.C. Snijman van Steynsburg Donderdagavond over Rom. 12:2. Vrijdagmorgen 2de December was bestemd om enige bejaarde broeders der gemeente mededelingen te laten doen omtrent de afscheiding, vooral te Middelburg, waaraan zij persoonlijk deelgenomen hadden. De vier broeders die spraken waren J. L. Olivier, Jacob van der Walt, J. J. Duvenhage en M. J. Pretorius. „Vrijdagnamiddag leverde ds. P. Bingle 'n predikasie over 1 Sam. 15:22.

"Vrijdagavond was er dienst door ds. M. Postma meer bepaald met 't oog op de kinderen en jongelieden der gemeente. Z.Ew. sprak naar aanleiding van 1 Sam. 1. Zaterdagmorgen om 8 uur kwam de gemeente en voornamelijk de kinderen bij de kerk bijeen, vanwaar 'n groot aantal karren al de aanwezigen naar Grootfontein brachten. Daar aangekomen werd er gezongen Ps. 68:10 en gebeden. Di. J.G.H. van der Walt, L. P. Vorster van Rustenburg en T. N. Venter van Ventersburg spraken daarna de kinderen toe, verhaalden de geschiedenis der afscheiding en wekten de kinderen op tot getrouwe navolging van het voorbeeld der vaderen. Na te zingen van Ps. 146:1 werd de dienst door ds. Venter met gebed gesloten. Toen werden verversingen uitgedeeld en na die genoten te hebben keerden allen in dankbare stemming huiswaarts.

"Zaterdagavond leverde dr. Du Toit zijn lezing: de kerk was als gewoonlijk, goed bezet. Ds. Van der Walt las eerst 'n aantal telegrammen en brieven van gelukwensing en toebidding van 's Heren zegen bij gelegenheid van 't jubileum van de Middelburgse gemeente. Brieven of telegrammen werden gelezen van prof. Cachet; Preator en studenten Theol. School; Kerkeraad van Dordrecht; ds. L.J. du Plessis; ds. N.H. van der Walt; Kerkeraad van Barkly Oost; ds. J.A. van Rooy. Dr. Du Toit begon zijn lezing met te zeggen dat het spijtig was dat er van de kerkgeschiedenis voor de afscheiding zo weinig bekend was. Hij gaf toe een zeer belangrijke en boeiende schets van een dienst te Kaapstad en een te Drakenstein gehouden in 1666. Duidelijk werden de toenmalige toestanden en gewoonten geschetst. Hoewel de lezing er niets van zeide, kon de toehoorder het niet laten de tegenwoordige kerkelijke toestanden te vergelijken met de toestanden zoals geschetst, en te gevoelen dat onze Geref. Kerk de echte voortzetting is van de kerk van Van Riebeeck. Zondag 4 December trad dr. Du Toit andermaal voor de gemeente op en preekte over Richteren 10.

"Ds. D. Postma van Burgersdorp nam de dienst in de namiddag van de zelfde dag waar. Hij leverde 'n predikasie over Job 19:25. 's Avonds kwam de gemeente voor 't laatst bijeen. De genoeglijke verrichtingen van deze blijde dagen zouden met 'n dankuur besloten worden. Nadat de plaatselijke leraar, J.G.H. van der Walt een toespraak had geleverd over Jesaja 48:18 waarin werd aangetoond de treurige gevolgen van ongehoorzaamheid en de grote beloften op gehoorzaamheid, ging hij voor in dankgebed. Ds. M. Postma van Johannesburg bedankte namens de feestgenoten uit andere gemeenten kerkeraad en gemeente van Middelburg voor de grote hartelijkheid en gulle ontvangst. Ds. Van der Walt bedankte namens kerkeraad en gemeente van Middelburg al de leraars en broeders en zusters die van verre en uit aangrenzende gemeenten tot ons overkwamen om met ons feest te vieren. Hierop werd Ps. 134:3 door allen, staande, elkander toegezongen en ging men vol van dankbaarheid uiteen. Lang zullen deze genotvolle dagen in gezegende herinnering blijven."

Die oorspronklike plan om 'n vleuel aan die Kerk aan te bou is nie verwesenlik nie.

Geboue

[wysig | wysig bron]
Ds. en mev. W. Venter is in 1959 in die gemeente ontvang.

Die huidige kerkgebou was teen 29 Mei 1861 (dus nog geen 6 maande ná die stigting van die gemeente nie) al in aanbou, volgens die Eeufeesgedenkboek van die dorp Middelburg, K.P. Volgens dié boek is hierdie gebou die oudste Gereformeerde kerkgebou in Suid-Afrika wat nog in gebruik is. In die tweede halfeeu van sy bestaan is al telkemale besluite geneem betreffende die gebou. Die meeste van die besluite kon egter nie uitgevoer word nie. Die beplanning van aanbou met die oog op die halfeeufees is byvoorbeeld nie deurgevoer is nie. Ook ná die halfeeufees is daar weer in 1912 en in 1920 besluite in hierdie verband. Reeds in Januarie 1912 kom die saak van die aanbou van 'n vleuel en 'n toring weer ter tafel. Aangesien hiervoor toe ongeveer £1 200 nodig is en aangesien dit by die Februarie-vergadering blyk dat daar maar vir £500 geteken is deur die lidmate, besluit die kerkraad om die plan nie nou uit te voer nie. Daar is toe net op vernuwing van die bestaande gebou besluit, en hiervoor word toe gekollekteer.

Wat toe alles aan die gebou gedoen is, word nie beskryf nie. Vermoedelik is toe die gewelpatroon van die gebou verander deur die minarette op die hoeke aan te bring en die boonste versiering in die middel van elke gewel. Volgens die foto voor in die 1910-Gedenkboek was hierdie versierings toe nog nie daar nie. Weer in 1920 (13 Februarie en 21 Mei) word besluit om geld in te samel vir die aanbou van 'n vleuel. En nog 'n keer is hierdie plan nie uitgevoer nie. Gedurende die maande tussen Mei 1945 en November 1947 word gewerk aan 'n grondige reparasie van die kerkgebou. Toe word nuwe banke en 'n nuwe preekstoel ingesit.

Dit is ook in hierdie tyd dat deur die kerkraad besluit word om 'n nuwe orrel aan te koop — die orrel wat vandag nog deur die gemeente gebruik word. In Oktober 1948 word die aankoop van die orrel bespreek. Dit lei tot die plasing van 'n bestelling vir die orrel. Toe die instrument afgelewer is, word deur die orrelkommissie gerapporteer dat die koste £2233-15-6 beloop benewens nog enkele ander rekeninge wat in verband met die installering staan en wat ook vereffen moet word. Dit was vir die kerkraad en gemeente 'n blye dag om die groot en doelmatige orrel beskikbaar te hê. Nog weer word in die jare 1956 tot 1959 op talle gewone en spesiale kerkraadsvergaderings gehandel oor die kerkgebou. Allerlei planne word gemaak; besluite word geneem. Soms is die gedagtes dat 'n nuwe kerkgebou op 'n ander terrein opgerig moet word; ander kere weer lui dit dat die bestaande gebou heeltemal vernuwe sal word. Maar weer kom dit so dat die ou gebou ongeskonde behoue bly. En in die eeufeesjaar is die gebou weer grondig gerepareer en opgeknap.

Die saal en ander geboue

[wysig | wysig bron]
Die onthaal ná die huwelik van Jan Louis du Plesiss en Susanna Lasea van der Walt op 3 November 1957 was die laaste in die ou saal, want die Maandag, 4 November, is dit gesloop en 'n kantoorgebou in sy plek opgerig.

In 1936 word dit deur 'n erflating van suster Hetta Kruger vir die kerkraad moontlik gemaak om te besluit om aan die boukommissie op te dra om tenders vir die bou van 'n saal te vra. Op 15 Augustus 1936 word 'n tender aanvaar en word 'n saal opgerig aan die suidekant van die kerkgebou. In November 1936 word aan die kerkraad meegedeel dat daar lidmate is wat beswaar het daarteen dat die saal die naam "Hetta Krugersaal" dra (helaas word in die notule nie beskrywe wat die besware is nie). Die kerkraad besluit egter om die naam so te behou. Sonder motivering van 'n nuwe besluit (in elk geval word die redes nie in die notule gevind nie) word tog op 12 Februarie 1937 besluit om die naam voor die saal te verwyder. Betekenisvol staan by hierdie jongste besluit genotuleer: "10 stemme word hierteen uitgebring."

Op dieselfde perseel waar in 1936 die saal gebou is, word in die laat 1950's 'n moderne kantoorgebou opgerig. Vir hierdie doel is die saal gesloop. Omdat die gebruik van 'n saal deur die gemeente waardeer is, word nou in die geboue aan die noordekant van die kerkgebou 'n saal met kombuis ingerig. In dieselfde gebou word ook 'n doelmatige kerkraadskamer en katkisasielokale ingerig. Die kerkraad het dit ook goedgekeur dat met die oog op die eeufees nog veranderings aan hierdie gebou aangebring word, waardeur onder meer 'n moederskamer ingerig sal word en ook die oostekant van die gebou heeltemal verander en verfraai kan word.

Die pastorie

[wysig | wysig bron]

Toe ds. J.G.H. van der Walt in 1904 hierheen gekom het, kon hy die nuwe pastorie wat net voor die heengaan van ds. S. Postma voltooi is, betrek. Hierdie gebou word gebruik totdat die kerkraad in die loop van 1951 besluit om dit te sloop en op dieselfde terrein 'n nuwe pastorie op te rig. In September 1954 rapporteer die Eiendomskommissie dat die nuwe pastorie so te sê gereed is. Dit is dan ook met vreugde dat 'n uiters doelmatige pastorie, ruim, gerieflik en sonnig in gebruik geneem kon word en die predikant en sy gesin as woonplek aangebied kon word. Die ruim perseel waarop die gebou staan, bied goeie geleentheid vir tuinmaak. Die goeie watervoorsiening wat daar is, maak die aanlê en instandhouding van 'n tuin ook moontlik. Ook die watervoorsiening by die pastorie het sy eie geskiedenis. Vroeër jare was daar 'n put op die erf. Op 3 Julie 1914 word aan die Boukommissie opgedra om ondersoek in te stel na die watervoorsiening (met mag om te handel). Hiermee saam is ook "algemeen besloten Telefoonverbinding voor de pastorie aan te vragen" — water en telefoon word dus sommer saam behandel. Dan word weer in 1954 notuleer dat br. en sr. M.J. Venter deur die kerkraad bedank word vir die boorgat wat hulle op die pastorie-erf laat maak het. Gedurende die baie droë somer van 1959–1960 moes die kerkraad net langs hierdie boorgat nog 'n gat laat maak. Daarna was daar baie ruim watervoorsiening.

Bediening aan verspreidwonende lidmate

[wysig | wysig bron]

Reeds kort ná die aankoms van ds. Van der Walt geniet die bediening van verafwonende lidmate die aandag van die kerkraad. Op die eerste kerkraadsvergadering ná sy bevestiging deel ds. Van der Walt mee (18 November 1904) dat hy nog nie op Cradock diens gehou het nie, maar hy stel dit in die vooruitsig om dit eerlang te doen. Dwarsdeur die jare heen word daar telkens weer rapport gedoen oor die bediening van die verspreidwonendes. Soms lyk dit of die wyk Cradock wil verdwyn (23 Februarie 1906): "De leraar rapporteert dat er thans nog slechts 5 lidmaten onzer Kerk te Cradock zijn en dat daarom een driemaandelijkse bediening daar niet meer mogelijk is." Tog het alles daar nooit tot niet gegaan nie. Altyd was daar — soms heelwat, ander kere weer baie min — lidmate op Cradock. In Februarie 1906 lyk dit of daar nie veel toekomsverwagting meer kan wees nie; in Oktober 1907 word meegedeel dat daar 10 lidmate is sodat 'n ouderling daar verkies word; vroeg in 1908 "doet de leraar verslag dat die wyk (Cradock) in zeer gunstige toestand verkeert". So het dit deur die loop van die jare op- en afgegaan. Sedert die 1950's was die kerkraad in die geleentheid om nog meer aandag aan die bediening van die lidmate op Cradock te gee. Dit hang saam met die saak van 'n "reisende predikant".

In die notule van 19 November 1920 word gewag gemaak van die bydrae van die gemeente vir 'n reisende predikant. Hierdie lank gekoesterde ideaal word eers in 1958 verwesenlik toe van die Westelike Klassis Kaapland die opdrag kom na die kerkrade Middelburg-Steynsburg-Hofmeyr "om 'n predikant te beroep om die lidmate wat woon tussen die spoorwegvurk na Port Elizabeth en Mosselbaai te bedien". Dit was 'n vae — en seker ook voorlopige — grensbepaling. Dit sou ook in die begintyd van die bediening deur ds. H.J. van der Walt (wat in 1959 predikant vir die bediening van die verspreidwonendes word) sy probleme oplewer. Die klassis kon egter op sy vergadering van April 1960 die grenskwessies behoorlik reël sodat die bediening van die verspreidwonende lidmate in die bedoelde gewese nou baie behoorlik geskied.

Voort die klassis die saak vir sy rekening geneem het, en veral gedurende die grootste gedeelte van die bedieningstyd van ds. J.G.H. van der Walt, was die hele suidelike helfte van die Kaapprovinsie vir bediening op Middelburg aangewys. So was ds. Van der Walt dikwels op reis na Cradock, Graaff-Reinet, Grahamstad, Port Elizabeth, De Aar, Ceres, Worcester en Clanwilliam. Soms word net melding gemaak van die bediening van die Boland. Hy het dié taak met onderskeiding uitgevoer.

Wat Cradock betref, het die Middelburgse kerkraad hom deurentyd geïnteresseer vir die saak van die kerk daar. In die eeufeesjaar (1960) het die kerkraad 'n Cradock-kommissie gehad wat 'n perseel namens die kerkraad aangekoop het op Cradock met die oog op die oprigting van 'n kerkgebou. Nadat die boufonds van die Cradock-wyk toereikend was, is tot die oprigting van 'n gebou daar oorgegaan, die vervulling van 'n lank gekoesterde ideaal.

Afgesien van die bediening van die verspreidwonende lidmate binne die bereik van ds. Van der Walt bied die notule nog 'n bykans skouspelagtige beeld van die bewegings van ds. J.G.H. van der Walt. Gedurende die jare 1906–1908 was hy onder meer op Burgersdorp, Venterstad, Bethulie, Vryburg, Humpata, Dordrecht, Steynsburg, weer Vryburg, Nylstroom, Jamestown, Humpata, Dordrecht, Steynsburg, weer Vryburg, Nylstroom en effens later tree hy ook op in Pretoria, Vryburg, Strydenburg, Ceres, “Crokedelrivier" (naby Brits), Johannesburg. Hoewel ds. Van der Walt vir die grootste gedeelte van sy bedieningstyd predikant van Middelburg was, lê sy spore tot ver buite die grense van sy eie gemeente, provinsie en selfs vaderland.

Die Dankfonds

[wysig | wysig bron]

Die Dankofferfonds se ontstaan word baie kort in die notule weergegee. Art. 19b, 15 Februarie 1935 lui net: “Dat een Dankoffer in Meimaand van die Gemeente gevra sal word in geld en vee". Hoewel dit nie in die notule gemeld word nie, is die vermoede dat die fonds gestig is om 'n eventuele geldnood, soos juis in die moeilike jare van depressie en droogte rondom 1933 beleef is, die hoof te bied. Eers op 23 Oktober 1942 is daar weer melding van die fonds. Toe is besluit om met Nagmaalsgeleenthede 'n spesiale dankoffer te vra en dit in 'n reserwefonds te belê. Tot hierdie fonds, wat die naam “Reserwefonds" gekry het, het die gemeente mildelik bygedra. Die vier deurkollektes wat daarvoor gedurende 1944 alleen gehou is, het byna £100 opgelewer. Op 25 Maart 1945 gee die kassier aan die hand dat die naam van die fonds voortaan sal wees die Dankofferfonds. Al besluit wat nog deur my i.v.m. hierdie fonds gevind kon word, is dit dat op 21 Februarie 1947 gereël word dat die “Naoorlogse fonds" en die Dankofferfonds saamgevoeg sou word. Verder was daar jaarliks melding in die finansiële verslae.

Die Studiefonds

[wysig | wysig bron]

Die Studiefonds was 'n baie lofwaardige aktiwiteit van die kerkraad. Toe op 1 Desember 1944 verskillende aansoeke om finansiële hulp met die oog op verdere studie voor die kerkraad dien, het die kerkraad nie sy weg oopgesien om vir hierdie doel lenings uit die kerkkas toe te staan nie. 'n Aantal lede van die kerkraad (ons bring hulde aan hulle vir hierdie optrede!) het toe dadelik op eie inisiatief besluit om elkeen iets by te dra om die nodige middele beskikbaar te stel. Daar word toe dadelik £29 vir hierdie doel toegesê. 'n Diaken stel toe voor dat hierdie geld die begin sal wees van 'n Studie fonds waaruit studente wat dit nodig het, in die toekoms gehelp kan word. By hierdie vergadering kom toe ook 'n brief van die Dorkasvereniging waarin aangebied word om jaarliks £10 tot so 'n Studiefonds by te dra. Die formele stigting van die Studiefonds vind plaas op die kerkraadsvergadering van 15 Mei 1945; op 20 Oktober word 'n reglement vir die fonds deur die kerkraad goedgekeur. Op 9 Junie 1951 word rapporteer dat die fonds reeds £302 sterk is.

Die kerkraad besluit toe dat jaarliks verslag van die fonds saam met die finansiële verslae voor die kerkraad sal dien. Die laaste wat in die notuleboek gevind word, is dat die fonds op 31-12-1953 £420 sterk was. Die besluit wat gebore is uit die optrede van die aantal broeders op 1 Desember 1944 is 'n mooi en sterk besluit. Dit getuig van heldere insig. Die doel van die fonds is lofwaardig. Daar is reeds al etlike jong broeders en susters deur middel van hierdie fonds in staat gestel om hulle studie voort te sit. Tot op datum (1960) bestaan die fonds nog.

Die Afrikaanse Bybel

[wysig | wysig bron]
Ds. Roelie Aucamp, predikant van 1973 tot 2011.

Die jaar 1933 was die jaar van die Afrikaanse Bybel. Op 7 Julie 1933 neem die kerkraad die volgende gevoelvolle besluit: “Die Kerkraad van die Geref. gemeente Middelburg verklaar hiermee dat hy lewendig besef die groot betekenis van die aanstaande invoering van die Bybel in ons eie taal in ons erediens waartoe hiermee die leraar gemagtig word ooreenkomstig die besluit van ons Sinode te Pretoria Maart 1933. Waar die Regeerder van hemel en aarde ons in hierdie donkere tyd aardse skatte ontneem (dit was die tyd van groot droogte en depressie), skenk Hy ons die vergoeding om deur sy Woord sy stem te hoor in ons moedertaal soos 'n ligstraal in die donker nag.

“Verder word geboekstaaf ons dank en aanbidding aan God vir die onwaardeerbare gawe van die Nederlandse Statevertaling waaruit vir 300 jaar ons voorgeslagte, ons en onse kinders die brood en water van die lewe ontvang het tot nou toe en waarvan ons hierby met leed afskeid neem.” Op 12 Augustus is 'n broeder deur die voorsitter bedank vir die Afrikaanse Bybel wat hy vir die kansel gegee het. Die kerkraad het op 27 Augustus 1933 ook gedenk aan die fees by geleentheid van die amptelike ingebruikneming van die Afrikaanse Bybel.

Ander sake

[wysig | wysig bron]

Op 15 Mei 1945 maak die kerkraadsvergadering se notule melding van n erflating van ene broeder Hans Lessing wat vir die kerkraad 'n bedrag van sowat £2 800 beteken het. Hierdie bedrag sal deur sy eie rente uitgebou word tot die som van £4 000, welke kapitale bedrag nooit aangeraak mag word nie. Die rente sal “deur hulle (die kerkraad) gebruik word vir 'n sustentasiefonds vir die salaris van die leraar van die gemeente te Middelburg". Op 12 Maart 1950 besluit die kerkraad om die ou orrel as geskenk te gee aan die plaaslike NG Sendingkerk. Vermoedelik was dit dieselfde orrel wat in 1904 “als geschenk aan onze gemeente door den kerkeraad der NG Kerk werd aangeboden".

Die feit dat die gemeente in 1959 'n gemeentelike nuusbrief kry, spruit voort uit 'n besluit wat op 11 Januarie 1957 geneem is: “Die saak (van 'n kwartaalblad vir die Geref. Kerk Middelburg) word na die Finans. Komm. verwys vir aandag.”

Op 28 Februarie 1959 besluit die kerkraad om “die 100-jarige bestaan van die plaaslike Geref. Kerk feestelik te vier. Ook word besluit om 'n gedenkboek uit te gee.”

Lidmaattal

[wysig | wysig bron]
Jaartal Dooplidmate Belydende lidmate Totaal
1960 133 296 429
1998 72 174 246
2002 61 169 230
2012 25 122 147
2014 24 116 140
2015 20 105 125
2020 26 83 109

Predikante

[wysig | wysig bron]
Ds. Willem Venter, leraar van 1959 tot 1964.

Bronne

[wysig | wysig bron]
  • (af) Jooste, prof. dr. J.P.: "Oorsig van die geskiedenis van die Gereformeerde Kerk Burgersdorp". In: Die Gereformeerde Kerk, Burgersdorp. Gedenkalbum by geleentheid van die Eeufees 22-24 Januarie 1960. Burgersdorp: Kerkraad van die Gereformeerde kerk.
  • (nl) Maeder, ds. G.A. en Zinn, Christian. 1917. Ons Kerk Album. Kaapstad: Ons Kerk Album Maatschappij Bpkt.
  • (af) Van der Vyver, M.D.: "Geskiedenis van die Gereformeerde Kerk Middelburg, K.P. 1860 tot 1904". In: Die Gereformeerde Kerk Middelburg Kaapland Gestig Desember 1860. Gedenkboek by geleentheid van die eeufees 2de, 3de en 4de Desember 1960. Middelburg, K.P.: Eerwaarde Kerkraad van die Gereformeerde Kerk.
  • (af) Van der Vyver, dr. G.C.P. (voorsitter: gedenkboekredaksie). 1959. Die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika 1859–1959. Potchefstroom: Deputaatskap vir die Eeufees.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (af) Wie is die Doppers? Geargiveer 4 Maart 2016 op Wayback Machine URL besoek op 25 Januarie 2015.
  2. (af) Wie as die Doppers? Geargiveer 4 Maart 2016 op Wayback Machine URL besoek op 25 Januarie 2015.
pFad - Phonifier reborn

Pfad - The Proxy pFad of © 2024 Garber Painting. All rights reserved.

Note: This service is not intended for secure transactions such as banking, social media, email, or purchasing. Use at your own risk. We assume no liability whatsoever for broken pages.


Alternative Proxies:

Alternative Proxy

pFad Proxy

pFad v3 Proxy

pFad v4 Proxy