Gereformeerde kerk Warmbad
Gereformeerde Kerk Warmbad | ||
Sluit in | Bela-Bela Pienaarsrivier Settlers Spa Park Caritas-versorgingsoord St. Vincent-hospitaal Bela-Bela-hospitaal Rusoord-ouetehuis Negester (Klein-Kariba) | |
Klassis | Waterberg | |
Huidige predikant(e) | Bernard Hattingh | |
Belydende lidmate | 180 | |
Dooplidmate | 34 | |
Adres | H.v. Kwaggaweg en Oosthuizenstraat Bela-Bela | |
Geskiedenis | ||
Stigtingsdatum | 6 Februarie 1954 | |
Afgestig van | Waterberg | |
Eerste predikant | Dirk van der Walt 1956 – 1966 |
Die Gereformeerde kerk Warmbad is ’n gemeente in die GKSA se Klassis Waterberg met sy middelpunt op die dorp Bela-Bela, wat eers as Warmbad bekendgestaan het. In 2015 het die gemeente 188 belydende en 45 dooplidmate gehad, vergeleke met onderskeidelik 265 en 220 in 1960.
Eerste kerkie
[wysig | wysig bron]Het Bad, later Warmbad genoem, was eers ’n wyk van die Gereformeerde kerk Waterberg, wat in 1859 gestig is maar so ’n groot gebied beslaan het dat Nylstroom (Modimolle) eers baie jare later as die gemeente se middelpunt aangewys is. In 1943 het die ou moedergemeente se kerkraad besluit om ’n gebou op Warmbad op te rig waarin eredienste gehou kon word. Bouwerk het in April 1945 begin en so verrys ’n geboutjie van rooi bakstene met ’n grasdak wat eindelik net oor die £713 gekos het. Ds. H.J. Venter van die moedergemeente het die hoeksteen gelê en op 28 Julie 1945 is die kerkie in gebruik geneem. Op 6 Februarie 1954 het die wyke op en om Warmbad van Waterberg afgestig en ontvang Warmbad die kerkie as bruidskat.
Tweede kerk
[wysig | wysig bron]In September 1962 het die gemeente besluit om ’n groter, meerdoelige gebou op te rig. Smit en Viljoen is as argitekte aangestel en Kense en Clasquin as bouaannemers. Die hoeksteen is op 28 April 1964 gelê en in Augustus van die volgende jaar is die gebou in gebruik geneem. W. Groothof het die Kanselbybel geskenk.
Hierdie kruiskerk se ontwerp bestaan uit vier A-vorm-fasades in elke windrigting en ’n losstaande toring. Aan die begin was daar nie ’n orrel nie, want dié is eers ’n jaar later agter in die kerk ingebou. Destyds het die gemeente die ou gebou vir vergaderings gebruik, maar talle pogings om dit tot nasionale gedenkwaardigheid te laat verklaar, het misluk. Eindelik is dit toe verkoop en omstreeks 2010 is dit as ’n woonhuis gebruik.
Predikante
[wysig | wysig bron]- Van der Walt, Dirk Jacobus, 1956 – 1966
- Snyman, Johannes Lodewikus Jakobus, 1966 – 1975
- Venter, Hendrik Johannes Stephanus, 1975 – 23 Desember 1978 (oorlede in die amp)
- Aucamp, dr. Marius, 1979 – 1985
- De Villiers, Izak Jacobus Johannes, 1986- 1990
- Nel, Petrus Johannes, 1990 – 2005
- Hattingh, Hermanus Bernardus, 2006 – hede
Bronne
[wysig | wysig bron]- (af) Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Schalekamp, ds. M.E. (voorsitter: redaksiekommissie). 2001. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2002. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Van der Walt, dr. S.J. (voorsitter: deputate almanak). 1997. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1998. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Vogel, Willem (red.). 2014. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2015. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Vogel, Willem (red.). 2015. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2016. Potchefstroom: Administratiewe Buro.